Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus se breier: ‘Dissipline het ons gepootjie’
Jordan Hendrikse, losskakel van die Leeus, het twee skoppe teen Griekwas oor die doodlyn laat trek. Die Poubloue op die foto is Gideon van der Merwe. Foto: Gallo Images

In die Leeus se kamp word dié span se gebrekkige dissipline uitgesonder as een van die redes waarom die Johannesburgers teen Griekwas in die Curriebeker-reeks verloor het.

Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus, moes bontstaan om vrae te antwoord nadat die Poubloues sy span Woensdag met 41-31 in die Goudstad geklop het.

Teen rustyd was die telling 17-12 in die besoekers se guns, maar in die laaste 40 minute het die Noord-Kapenaars die krane oopgedraai.

Om sake vir die Leeus nog moeiliker te maak, is EW Viljoen (heelagter) in die tweede helfte met ’n rooi kaart van die veld gestuur. Laat in die wedstryd is Duncan Matthews boonop ook koelkas toe gestuur. Albei die oortredings was vir ongeoorloofde duikslae.

Dít, sê Van Rooyen, het sy span die wedstryd gekos.

“Jy kan baie verskonings maak, maar dit is net nie goed genoeg nie. Dit is moeilik as jy ’n rooi en geel kaart kry. Enige kontak teen die kop is iets wat hard gestraf word, en dit is reg so.

Jy kan baie verskonings maak, maar dit is net nie goed genoeg nie. Dit is moeilik as jy ’n rooi en geel kaart kry. Enige kontak teen die kop is iets wat hard gestraf word, en dit is reg so.
Ivan van Rooyen

“Dit was swak oordeel aan EW se kant. Ek dink Duncan s’n het nie goed gelyk nie, maar ek dink nie hy het die verkeerde bedoelings gehad nie,” sê Van Rooyen.

“Maar dit was die regte besluit. Nadat ons nie goed begin het nie, en ons teruggeveg het, om toe daardie twee kaarte te kry . . . dit het ons uiteindelik die wedstryd gekos.”

Benewens daardie twee kaarte, het die Leeus se besluitneming hulle ook in die steek gelaat. Dan het Jordan Hendrikse (losskakel) ook die bal twee keer oor die doodlyn geskop, of die kantlyn opgesoek wanneer ’n strafdoel dalk ’n beter opsie sou wees.

Hoewel die Leeus vyf drieë gedruk het, en sodoende ’n bonuspunt gekry het, het hulle by tye stomp en sonder tande op die aanval gelyk. Tog was daar een uitstaande aspek van die Johannesburgers se spel: Hulle het Griekwas harde bene in die skrums laat kou.

Die Leeus kon tot dusver slegs een oorwinning in die reeks behaal, maar hulle het skaars tyd om hul wonde te lek, want Sondag kom hulle teen die Bulle in Pretoria te staan.

“Nadat ons swak begin het (teen Griekwas), het die ouens regtig teruggeveg. Ons besluitneming kon baie beter op die veld gewees het. Dit is iets wat ons sal moet regstel,” sê Van Rooyen.

Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus, gee toe sy span se besluitneming was Woensdag teen Griekwas in Johannesburg nie na wense nie. Foto: Gallo Images

“Uit die aard van die saak sal ons Vrydag baie daarop fokus en dan Saterdag ’n kapteinsoefening hê en dan moet ons Sondag speel.

“Soos ons vir mekaar in die kleedkamer gesê het, ons gaan nie mekaar beter praat vir Sondag nie. Dit gaan daaroor om in die spieël te kyk en dan die voorbereiding Vrydag en Saterdag. Ons moet dit regstel.”

Van Rooyen het toegegee dat daar veranderinge aan die span vir die kragmeting met die Bulle gaan wees. Hy sê hoewel peil ’n rol gaan speel in wie gekies word, sou daar gegewe die min tyd tussen die twee wedstryde in elk geval veranderinge wees.

Volgens Van Rooyen kan spelers soos Vincent Tshituka (flank), Dan Kriel, Wandisile Simelane (albei senters) en Courtnall Skosan (vleuel), wat nie teen Griekwas gespeel het nie, vir die kragmeting met die Bulle oorweeg word.

Meer oor:  Ew Viljoen  |  Ivan Van Rooyen  |  Johannesburg  |  Kimberley  |  Leeus  |  Afrigter  |  Curriebeker  |  Dissipline  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.