Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kriel gaan saam met die Wolwe hardloop

Die Leeus-senter Dan Kriel is op die punt om Johannesburg vir die Amerikaanse deelstaat Washington te verruil nadat hy ’n kontrak met die Seattle Seawolves gesluit het.

Luidens ’n verklaring deur dié span, wat in die VSA se Major Rugby League (MRL) speel, het Kriel ’n kontrak van drie jaar met hulle gesluit. Hy sal sy salaris van die begin van 2022 af daar verdien.

Die Leeus-senter Dan Kriel is op pad Amerika toe nadat hy ’n kontrak met die Seattle Seawolves gesluit het. Foto: Gallo Images

“Om ’n kontrak met Dan te sluit reflekteer die aspirasies wat ons as ’n klub het,” het die Seawolves se hoofafrigter, Allen Clarke, in ’n verklaring gesê. “Hy is ’n ervare Superrugby-speler, maar tog net 27 jaar oud, met groot ambisies om te presteer vir die Seawolves en die Springbok-keurders se oog te vang. Uit al ons gesprekke is dit duidelik dat Dan ’n man met integriteit is. Ek twyfel glad nie dat hy ’n wonderlike toevoeging tot ons groep en ’n rolmodel vir ons jong middelveld-spelers sal wees.”

Kriel, die tweelingbroer van die Springbok-senter Jesse, het hom in 2019 by die Leeus aangesluit nadat sy rugbypad hom vroeër na die Bulle en Stormers geneem het. Hy het hom gevestig as ’n gereelde gesig in die Leeus se middelveld en beïndruk met die aggressie waarmee hy verdedigingslinies aangeval het. In ’n stadium vanjaar het hy ook die kapteinsarmband gedra.

Die senter, wat weekliks pendel tussen Johannesburg en KwaZulu-Natal, waar sy vrou, Candice, en hul kinders, Summer en Cruz, gesetel gebly het, het gesê hy kan nie wag vir die volgende hoofstuk in sy rugbyloopbaan nie.

“My gesin en ek is baie opgewonde oor die nuwe hoofstuk wat voorlê,” het hy gesê. “Ons het wonderlike dinge gehoor van Seattle en Major League Rugby. Dit voel reeds soos ’n goeie tuiste vir ons.”

Ten spyte daarvan dat Kriel eers aanstaande jaar in ’n Seawolves-trui sal begin speel, is sy tydperk by die Leeus reeds verby, met die senter wat nie Donderdag saam sal reis na Europa vir die eerste been van die Verenigde Rugbykampioenskap nie.

Met Kriel se dienste nie meer tot hul beskikking nie, het die Leeus die Pumas-senter Matt More nadergetrek om Europa toe te reis. Die binnesenter sal, soos Kriel voor hom, met Burger Odendaal meeding vir die 12-trui.

Meer oor:  Dan Kriel  |  Seattle Seawolves  |  Mlr  |  Leeus  |  Major League Rugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.