Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Leeus se toer kan SA rugby red’
Aanstaande jaar se oorlog tussen die Springbokke en die Britse en Ierse Leeus kan vir rugby in Suid-Afrika ’n reddingsboei wees, glo die WP-rugbybaas Raymond van Niekerk. Foto: Gallo Images

Die Britse en Ierse Leeus se toer aanstaande jaar kan vir Suid-Afrikaanse rugby ’n reddingsboei wees indien Covid-19 betyds hokgeslaan kan word.

Dís die mening van Raymond van Niekerk, direksielid van die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se sakevleuel. Van Niekerk is ook een van die WPRU se stuurkomiteelede tot tyd en wyl ’n nuwe uitvoerende hoof aangestel word.

“As die Leeus-toer baie inkomste genereer, kan dit die spel in Suid-Afrika red. Almal in die spel is wêreldwyd onder druk. As jy ’n groot finansiële inspuiting gaan kry, bied dit vir jou ’n gulde geleentheid om die bedryf in die belang van die franchisespanne, spelers, ondersteuners en belanghebbendes te red,” sê Van Niekerk.

Presies watter effek die Covid-19-pandemie op die kommersiële aspekte van rugby gaan hê, sal afhang van hou gou dit in bedwang gebring kan word. Die opskorting van die Superreeks sal op kort termyn ’n negatiewe impak op franchisespanne se hekgeld hê, terwyl dit onduidelik is of dit ook die toetskalender gaan raak.

Jy moet soek vir moontlike maniere om die spel aan die gang te hou.

Van Niekerk sê die WP, soos die ander unies, laat hom deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) lei rakende die pad vorentoe. Hulle het nog die voordeel van tyd met die toetskalender wat eers in Julie afskop en Saru wat moontlike kompetisiestrukture ondersoek.

“Jy kan as franchise mikrobesluite neem, maar hierdie kwessie raak die ganse bedryf en daar is ’n beheerliggaam met wie jy saamwerk,” sê Van Niekerk.

“Ek weet dat Jurie (Roux, uitvoerende hoof van Saru) en sy span deurnag werk aan die moontlikhede vir die toekoms. Jy moet soek vir moontlike maniere om die spel aan die gang te hou.”

Hy sê geskiedkundig gesproke het SA rugby ’n baie goeie verhouding met SuperSport en geweldige agting vir hulle as vennote.

“Hulle sal waarskynlik ook planne beraam – nie net ter wille van hulself nie, maar met die belange van die spel en ondersteuners in gedagte. Dit is baie bekwame mense wat weet wat hulle doen.”

Die groot ding waaraan ons desperaat werk, is om seker te maak dat daar nie ’n swaard oor ons personeel se kop hang nie.
Raymond van Niekerk, direkteur van die WP-rugbyunie se sakevleuel. Foto: Gallo Images

In die WP word daar konstant gepraat – met spelers, bestuurders en ondersteuners.

Van Niekerk sê alles sal in die stryd gewerp word om te sorg dat die Covid-19-krisis nie poste in die gedrang bring nie.

“Die groot ding waaraan ons desperaat werk, is om seker te maak dat daar nie ’n swaard oor ons personeel se kop hang nie. As daar in enige bedryf van kostebesnoeiings gepraat word, begin almal bekommerd raak oor hoe dit hulle kan raak, want daar is families wat gevoer moet word en huislenings om te betaal,” sê hy.

“Ons is baie bewus daarvan en sal ons bes doen om seker te maak dat dit nie daarop neerkom nie. Dit moet ’n laaste uitweg wees, want my mening is dat mense die laaste ding is wat jy moet sny.”

Terwyl spelers se salaris by etlike klubs in die Noordelike Halfrond al gesny is, is die aptyt nie daar vir Suid-Afrika om dieselfde roete te stap nie.

“Ons is nie naby daaraan om salarisse te sny nie. Ons het ’n baie goeie verhouding met ons spelers. Dié kwessie is geensins iets wat hulle kon beheer nie,” sê Van Niekerk.

“Daar is ook ’n groot verskil in die sin dat oorsese klubs onder privaat eienaarskap is. Hulle beweeg vinnig en meedoënloos. Ons is meer mens-georiënteerd omdat die provinsiale unies betrokke is. Ons wil die negatiewe uitwerking op spelers en personeel so ver as moontlik beperk.”

Hy glo die ganse planeet, eerder as net rugbyunies, se menslikheid gaan deur Covid-19 getoets word wat betref hoe mense hul families, vriende, kollegas en afhanklikes behandel.

“Dit is ’n seminale oomblik in ons geskiedenis, waarskynlik een van die grootstes wat daar vir generasies sal wees.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Westelike Provinsie  |  Britse En Ierse Leeus  |  Wp  |  Covid-19  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.