Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus sê waarom hul Swys wegwys

Die Leeus het gemeen Swys de Bruin is net te onlangs by dié unie weg om nou SuperSport-onderhoude met die nuwe, jong afrigtingspan en spelers te voer.

Daarom het hulle vir SuperSport toestemming gegee om ’n program op Ellispark te verfilm met die voorwaarde dat De Bruin dit nie aanbied nie, sê Altmann Allers, voorsitter en eienaar van die Leeus-maatskappy.

Swys de Bruin

“Dis so goed as om vir Robbie Fleck te vra om onderhoude met die Stormers se afrigtingspan en spelers te gaan doen net nadat hy onlangs klaargemaak het,” sê Allers.

“Geen egskeiding is pynloos nie, maar daar is geen kwade gevoelens tussen my, Swys en Rudolf Straeuli (uitvoerende hoof) nie.

“Swys is altyd welkom. Alle partye het die onderhandelinge baie professioneel hanteer toe hy klaargemaak het. Dis nog net te gou.

“Swys het ’n groot bydrae gelewer.”

Rapport het Altmann om kommentaar genader nadat Netwerk24 berig het die Leeus het ’n boodskap aan SuperSport gestuur dat hulle welkom op Ellispark is, maar dat De Bruin nie mag saamkom nie.

Hy was van 2013 tot 2019 as agterlynafrigter en later hoofafrigter by die Leeus betrokke.

De Bruin het ’n kontrak met SuperSport onderteken om vanjaar by sy rugbyprogramme betrokke te wees. Hy het as deel daarvan die laaste ruk ’n draai by al die plaaslike Super-spanne gemaak, met die uitsondering van die Leeus.

“Ek was by al drie (Stormers, Haaie en Bulle) die ander unies,” het De Bruin aan Rapport gesê.

“Hulle het niks vir my gesê nie. Ek het net gehoor dat Robbie (Kempson) in my plek na Ellispark gaan. Dis dit.”

Ons senior uitvoerende vervaardiger vir rugby kan nie onthou dat hy hom na die Leeus gestuur het nie.
SuperSport-woordvoerder.

De Bruin (59) was verbaas oor die boodskap en sê hy het steeds ’n goeie verhouding met die spelers en afrigters.

Hy het sewe jaar lank saam met Cash van Rooyen afgerig. Van Rooyen is nou die hoofafrigter.

’n Bron sê daar was wel die afgelope twee jaar ’n paar voorvalle tussen De Bruin en die topbestuur, maar dis algemeen dat ’n hoofafrigter en die ringkoppe soms verskil.

In een van die voorvalle het De Bruin verlede jaar aan die vooraand van die Leeus se kragmeting met die Chiefs in Hamilton besluit om weens mediese redes na Suid-Afrika terug te keer. Hy het agterna gesê dat daar geen breuk tussen hom en enigeen by die Leeus is nie.

Hy het ontken daar is inmenging met spankeuses.

Dis ook bekend dat De Bruin en die Leeus haaks was oor sy vergoeding toe hy destyds deur Rassie Erasmus by die Springbokke betrek is.

Onderhandelinge oor ’n kontrakverlenging tussen die Leeus en De Bruin is destyds as ongemaklik beskryf.

SuperSport sê De Bruin werk gewoonlik in die ateljee en die beweringe oor Ellispark is dus “vreemd”.

“Ons senior uitvoerende vervaardiger vir rugby kan nie onthou dat hy hom na die Leeus gestuur het nie,” sê ’n SuperSport-woordvoerder.

Meer oor:  Leeus  |  Ellispark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.