Hoop bestaan nog by Ellispark dat Warren Whiteley ’n merkwaardige terugkeer na die speelveld kan maak ná ’n ernstige kniebesering.

Warren Whiteley
Die 32-jarige Whiteley het in Mei verlede jaar laas enige rugby gespeel.
Hy het sy knie in April 2019 in die Leeus se oorwinning van 23-17 oor die Chiefs in Hamilton beseer. In Mei verlede jaar het hy sy terugkeer in die Leeus se oorwinning van 29-28 oor die Waratahs in Johannesburg gemaak, waarna ontsteking in die knie verhinder het dat hy betyds vir verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan herstel het.
Sy laaste en 23ste Bok-toets was op 10 November 2018 in Parys teen Frankryk.
“Warren se plan is om ’n laaste (sy vierde) mediese mening te kry oor of hy weer sal kan speel,” het ’n onberispelike bron aan Rapport gesê. Sodra die inperking hom toelaat, wil hy wil daar- voor Kaap toe reis.
“Hopelik sal dit in die volgende maand of twee gebeur. Sy fokus is tans nog 100% gerig op sy rol as afrigter by die Leeus.”
Whiteley is tans een van Cash van Rooyen se hulpafrigters by die Leeus.
Van Rooyen, wat in 2019 as hoofafrigter by Swys de Bruin oorgeneem het, se pligte kan in die jongste verwikkeling later vanjaar uitgebrei word. Dit kom nadat Neil de Bruin, Swys se seun en tot onlangs een van Van Rooyen se hulpafrigters, ’n kontrak met Johan Ackermann se Japanse klubspan NTT Docomo Red Hurricanes gesluit het.
Die Leeus tob nog of hulle ’n plaasvervanger vir De Bruin gaan aanstel met Van Rooyen wat intussen die take as aanvallende afrigter moet oorneem.
“Ons gaan geen oorhaastige besluit neem oor Neil se pos nie,” het Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die Leeus, gesê.
“Ons sal oor die volgende paar weke ons verskillende behoeftes bepaal en dan besluit of ons iemand gaan aanstel.”