Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus slaan toe ná WP se geelkaart

Die Goue Leeus het gister nog ’n paar hande vol sout in die wonde van die Westelike Provinsie gevryf toe hulle met ’n puik terugvegpoging ’n broodnodige wegoorwinning van 30-28 (rustyd 21-10) op Nuweland behaal het.

Terwyl daar by tye opwindende rugby opgedis is, veral toe die Leeus-heelagter, Tyrone Green, die wendrie gaan druk het, was dit ’n slordige wedstryd, deurspek met foute en nie die soort bloudruk vir enige van die twee spanne se aanslag om die Curriebeker vanjaar te verower nie.

Paul de Wet, WP-skrumskakel, druk gister teen die Leeus, met Pieter Jansen (links) en Ross Cronjé te laat om te keer. Foto: jaco marais

Vir die Leeus is die vier punte weg van die huis af baie werd in hul bekerveldtog. Veral die durf wat hulle gewys het om die tuisspan ore aan te sit voor die sowat 9 100 toeskouers, tel baie punte vir hulle. Die Streeptruie moet nou al hul oorblywende wedstryde wen as hulle nog enige sê in vanjaar se Curriebeker-reeks wil hê.

Die geelkaart wat Jaco Coetzee, plaasvervangerflank, sowat 12 minute voor die eindfluitjie gekry het, was uiteindelik die doodskoot vir die WP se wenkans. Met 14 spelers kon hulle net nie die Leeus, wat van elke moontlike plek op die veld aangeval het, keer nie.

Toe Coetzee af is, was die telling nog 28-20 in sy span se guns. Toe hy egter weer sy verskyning maak, was dit 28-30 en sy span was teen die planke in hul halfgebied.

Die Westelike Provinsie se breier, het agterna gesê sy span is nou onder groot druk en dat hulle al hul wedstryde vorentoe sal moet wen om nog ’n kans in die reeks te staan.

Die Streeptruie was met sowat 12 minute se spel oor nog met 28-20 voor en het ’n strafskop voor die pale gehad om ’n voorsprong van 11 punte te bewerkstellig, maar pleks van vir die drie skoppunte te gaan, het die WP weer geskrum en toe ’n strafskop afgestaan.

Dobson het pa gestaan vir dié besluit.

“Ek het dalk ’n fout gemaak deur nie pale toe te gaan nie. Dit was my besluit,” het Dobson ná die tyd gesê.

“Hulle was egter op ’n waarskuwing en ons kon die geelkaart melk. As ons nou terugkyk, moes ons dalk die drie punte geneem het.”

Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus, was in sy noppies met die veggees wat sy span gewys het, veral nadat hulle vroeg agter was.

“Ek is baie trots op die ouens vir die karakter en veggees wat hulle gewys het,” het hy gesê.

“Baie van die ouens het goed gespeel. En met die jong span wat ons het, kom daar ’n bietjie kreatiwiteit en daardie vreesloosheid.”

Die Leeus het wel net drie drieë gedruk, maar die skopvoet van die losskakel, Shaun Reynolds, was ’n Leeu-troefkaart. Hy het drie strafdoele behaal. Daarteenoor het die WP vier drieë gedruk, wat hulle darem met twee punte uit die stryd laat tree.

Albei spanne het grootliks op rolmaalbewegings staatgemaak met drie van die WP se drieë wat só begin het. Scarra Ntubeni, haker van die WP, het twee keer oorgeduik, terwyl die skrumskakel, Paul de Wet, ook danksy aanvoorwerk van ’n rolmaalbeweging af kon gaan druk.

Die Leeus se slot Ruben Schoeman en haker, Pieter Jansen, se drieë danksy Leeus-rolmale het hul span deurentyd in die stryd gehou. Teen die einde het net desperate lakwerk die Leeus van nog ’n moontlike drie weerhou.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Goue Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.