Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus-stut Smith op pad Frankryk toe
Die Leeus-stut Dylan Smith gaan sy loopbaan binnekort voortsit in Frankryk. Foto: Lions Rugby

Die Leeus is die dienste van die loskopstut Dylan Smith kwyt, nadat hy besluit het om sy deugde in Frankryk te gaan uitstal.

Smith se agent, Anthony Johnson, wou nie Maandag uitwei oor waar in Frankryk die Johannesburger nou gaan speel nie, maar het gesê hy sal daarheen gaan sodra sy visum afgehandel is.

“Ek kan ongelukkig nie sê waar hy nou gaan speel nie, want die klub wil dit self aankondig,” het Johnson gesê.

Smith se kontrak met die Leeus eindig eers in Junie, maar hulle het ingestem om hom vroeër daarvan vry te stel. Sy vertrek is ’n slag vir die Johannesburgse unie, want hoewel hy nie die afgelope seisoen hul voorkeur-loskopstut was nie, het hy nie die geleentheid om sy teenstanders in die skrum te karnuffel laat verbygaan wanneer hy die kans gegun is nie.

Smith (27) het die Goue Leeus reeds as skoolseun in die Cravenweek verteenwoordig en sy hele beroepsloopbaan tot dusver by dié unie deurgebring. Hy het 55 Superrugby-wedstryde op sy kerfstok (waaronder die drie eindstryde van 2016, 2017 en 2018) en het 40 keer in Suid-Afrika se plaaslike kompetisies vir die Leeus uitgedraf.

Hy het die unie in ’n verklaring bedank vir hul “massiewe impak op my lewe die afgelope agt jaar” en aan die ondersteuners gesê dit was “ ’n voorreg om vir julle te speel”.

Die Leeus sou beslis kon doen met Smith se vuurkrag in die skrums op die swaar velde van Europa wanneer hulle later vanjaar die Pro16-reeks betree, maar hulle het darem ook nie ’n tekort aan goeie stutte nie.

Die Leeus het verlede jaar meer op Sti Sithole se knoppie gedruk om die nr. 1-trui te dra, maar toe hy in ’n oefensessie ’n dyspierbesering opgedoen het, het Smith sy kans om te beïndruk met albei hande aangegryp en die Haaie se skrumwerkers in ’n Curriebeker-stryd terug Durban toe laat verlang.

Ironies genoeg is sy kans om die trui syne te maak deur ’n dyspierbesering van sy eie – tydens opwarming vir die ligawedstryd teen die Bulle – in die wiele gery.

Die Springbok-stut Ruan Dreyer is in die Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reeks aan albei kante van die skrum aangewend en kan dalk nou meer kans as loskop kry. Die 23-jarige Nathan McBeth, ’n voormalige Junior Springbok, staan ook in die ry vir die nr. 1-trui.

Meer oor:  Frankryk  |  Leeus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.