Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus sukkel wéér met hul verdediging

Die Leeus se Supertoer na Australasië het Saterdag op ’n vals noot begin toe die Brumbies hulle in Canberra met 31-20 verniel het.

Andries Coetzee van die Leeus word platgeduik in sy span se wedstryd teen die Brumbies in Canberra.Foto: Getty Images

Dit was die Leeus se ou siekte, vrot verdediging, wat weer kwaai kop uitgesteek het en hulle duur te staan gekom het.

Hulle het vyf drieë afgestaan en baie onbeholpe gelyk wanneer verdediging ter sprake gekom het.

In Leeuland word daar die heeltyd gepraat hoeveel drieë hulle druk, maar is dit nou tyd om veel eerder toe te sien dat hulle leer om te keer en nie so gereeld agter hul eie doelpale hoef te staan nie.

Hul verdediging lek omtrent soveel soos ’n sif en dit is ’n geweldige aanklag teen hierdie span se afrigters dat hulle oor die afgelope seisoen en ’n half net nie daarvan werk kon maak nie.

Die Leeus het heel belowend begin en die druk vanuit die staanspoor toegepas.

Die Brumbies-senter, Tom Wright, het sommer in die eerste vyf minute ’n geel kaart gekry toe hy ’n boorvat op Malcolm Marx uitgevoer het.

Kort daarna het Aphiwe Dyantyi vlugtige voetwerk op die vleuel uitgevoer om die eerste drie te druk.

Die tuisspan het egter stadigaan ’n voetholte gevind en teruggeslaan met sterk lopies van die heelagter, Tom Banks, wat die Leeus se gebrekkige verdediging blootgelê het.

Hulle was veral kwesbaar op die regtervleuel en die Brumbies se eerste twee drieë het aan daardie kant van die veld gekom.

Toni Pulu se drie het juis gekom toe Ruan Combrinck probeer onderskep het en die regtervleuel heeltemal oopgelaat is vir Pulu om deur te hardloop.

Combrinck was nou omtrent ’n nul op ’n kontrak wat die verdediging betref.

Net voor rustyd het die Brumbies weer ’n groot slag geslaan met die drie van Tivita Kuridrani nadat die Leeus besit afgestaan het op die aanval en die tuisspan met ’n teenaanval vanuit hul eie halfgebied kon gaan afrond.

Elton Jantjies het uitstekende werk gedoen om die Leeus vroeg in die tweede helfte weer terug in die prentjie te kry deur die bal skitterend op te pik van die grond af en toe met die swaai van die heupe rigting te verander en die verdedigers onkant te betrap.

Tog was dit maar weer net ’n kwessie van tyd voordat die Brumbies weer gate in hul verdediging sou vind en die drieë laat vloei.

Puntemakers:

Brumbies 31 (19): Drieë: Lachlan McCaffrey, Toni Pulu, Tivita Kuridrani, Tom Banks, Tom Wright. Doelskoppe: Christian Lealifano (3).

Leeus 20 (8): Drieë: Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Sylvian Mahuza. Doelskop: Jantjies. Strafdoel: Jantjies.

Meer oor:  Aphiwe Dyantyi  |  Elton Jantjies  |  Canberra  |  Brumbies  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.