Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus tjoepstil voor stryd teen WP

Die Leeus het vandeesweek taamlik laag gelê voor Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die kampioen, die Westelike Provinsie.

Uit die tuiskamp is daar tog wel enkele geluide gemaak dat die besoekers uit die Kaap die groot gunsteling is om met die ligapunte terug te keer huis toe.

Die Leeus-haker Corné Fourie kry Saterdag kans om sy toekomstige werkgewer op Ellispark te beïndruk. Foto: Gallo Images

Dit is egter maar alles deel van die sielkundige oorlogvoering voor hierdie stryd, wat tot ’n groot mate kan bepaal watter van hierdie spanne ’n tuis-halfeindstryd kan aanbied.

Deur die etiket van gunsteling om die Streeptruie te wil hang, is maar net die Leeus se manier om die druk na die Kapenaars te verplaas.

Deurdat dit ’n tuiswedstryd is, sal daar gewis druk op die Leeus wees om daardie voordeel te benut en die kampioen sy eerste nederlaag van die seisoen toe te dien.

Die Leeus se hoofafrigter, Ivan van Rooyen, het egter verkies om sy gevoel oor die wedstryd eerder vir homself te hou en dit nie met die media te deel nie.

Die Leeus het ’n gevestigde span gekies vir hierdie kragmeting en slegs drie veranderinge, waarvan een posisioneel is, is aan die beginspan gemaak.

Die gebreekte enkel wat die regtervleuel Madosh Tambwe teen die Vrystaat-Cheetahs opgedoen het, het twee skuiwe tot gevolg gehad.

Sylvian Mahuza, wat puik vertoon het as heelagter teen die Cheetahs, skuif nou noodgedwonge terug na vleuel, met die Springbok Andries Coetzee wat sy plek herwin op heelagter.

In die moderne era het dit vir afrigters soos ’n vloekwoord geword om te erken ’n speler word weggelaat omdat sy vertonings nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Daar word nou agter die verskoning geskuil dat ’n speler ruskans gegun word, soos ook verlede week gesê is toe Coetzee nie teen die Cheetahs gespeel het nie.

Sy voorafgaande vertonings in die Curriebeker-stryde het egter nie die verbeelding aangegryp nie en in die ou dae sou summier gesê word hy het die trekpas gekry.

Coetzee kry egter nou in hierdie hoëprofiel-wedstryd weer die kans om te wys watter begaafde speler hy is en waartoe hy in staat is.

In die enigste verandering voorlangs vervang Corné Fourie vir Pieter Jansen as haker.

Fourie verlaat die Leeus in November om hom by die Stormers en Westelike Provinsie aan te sluit in die Kaap en hy sal sy toekomstige span iets wil gee om hulle te laat uitsien na sy koms.

Twee beseerdes is terug op die plaasvervangersbank. Nic Groom (hand) en Johannes Jonker (arm) maak hul terugkeer, terwyl twee nuwelinge, die losvoorspeler Driaan Bester en die veelsydige agterspeler Gianni Lombard, hul Curriebeker-debuut as plaasvervangers kan maak.

Dit is Saterdag ’n dag propvol rugby op Ellispark en diegene wat uit vrees vir nóg ’n moontlike ploetervertoning van die Springbokke dit eerder nie wil aanskou nie, kan al om 10:30 daar wees om die Leeus en die WP se o.19-spanne te sien swaarde kruis.

Om 12:30 speel die o.21’s en die hoofwedstryd is om 15:00.

Leeus: Andries Coetzee, Sylvian Mahuza, Lionel Mapoe, Howard Mnisi, Courtnall Skosan, Shaun Reynolds, Dillon Smit, Hacjivah Dayimani, Len Massyn, James Venter, Marvin Orie (k), Rhyno Herbst, Jacobie Adriaanse, Corné Fourie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Pieter Jansen, Johannes Jonker, Reinhard Nothnagel, Driaan Bester, Gianni Lombard, Wandisile Simelane.

Curriebeker: Bepalings

Curriebeker: Puntelys

Curriebeker: Uitslae

Meer oor:  Leeus  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.