Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Gatland rig pleidooi aan Engelse klubs

Die hardkoppigheid van Engelse Premierliga-rugbyklubs kan ’n negatiewe invloed op die sukses van die Britse en Ierse Leeus hê wanneer hulle in 2021 na Suid-Afrika toer.

Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus. Foto: Getty Images

Dié klubs weier nog volstrek om hul wedstrydprogram in die 2020/2021-seisoen aan te pas sodat die spelers wat vir die Leeus gekies word, meer tyd sal hê om voor te berei en akklimatiseer in Suid-Afrika.

Soos sake tans staan, sal die Leeus se eerste toerwedstryd slegs ’n week ná die eindstryd van die Engelse Premierliga-eindstryd (wat op 26 Junie beslis word) plaasvind.

Dít beteken Warren Gatland, afrigter van die Leeus, gaan bitter min tyd hê om van die Engelse spelers in sy groep onder hande te neem voor die toer en kan hom selfs noop om van hulle oor die hoof te sien.

G’n wonder dan nie dat Gatland vandeesweek ’n pleidooi aan die Engelse Premierliga gelewer het om sy eindstryd ’n week vroeër te skeduleer.

Gatland, wat die Leeus ook op hul twee vorige toere (2017 na Nieu-Seeland en 2013 na Australië) gebrei het, het in ’n onderhoud met dailymail.co.uk gesê hy wil in 2021 die scenario vermy wat hul voorbereiding vir die vorige toer na Nieu-Seeland ondermyn het.

“Die span het toe op die Sondag ná die twee eindstryde (Engelse Premierliga en eertydse Pro12-reeks) saamgetrek, saam aandete genuttig, die volgende oggend Nieu-Seeland toe gevlieg, die Woensdag daar aangekom en die Vrydag sy eerste toerwedstryd gespeel.”

Die Pro14-reeks se beheerliggaam het reeds ingestem om sy eindstryd met ’n week te vervroeg en dít sal nou op 20 Junie 2021 beslis word. Dít beteken dat spelers van Ierland, Skotland en Wallis ’n week vroeër by die Leeus kan aansluit.

Die 56-jarige Gatland sê dit strek uiteindelik tot die Engelse klubs se voordeel as die Britse Leeus goed vertoon op toer.

“Ons gaan nou teen die wêreldkampioen speel. Ek probeer hulle (die Engelse klubs) daarop wys dat daar ’n geleentheid vir hul spelers is om Suid-Afrika toe te gaan en as supersterre terug te keer.

“Met die belangstelling en mediadekking wat ’n Leeus-toer kry, kan ’n speler as ’n onbekende klubspeler daar opdaag en as ’n superster terugkeer. Hoe goed sal dit nie vir die klubs wees nie?

“Skielik kan hulle meer kaartjies verkoop en wil kinders hul helde, wat vir die Leeus gespeel het, sien speel. Waarom sal hulle so ’n kans laat verbygaan? Die meeste mense ondersteun die Leeus. Dit lyk asof net ’n klein groepie vasskop daarteen. Of dit die klubs se eienaars is, kan ek nie met sekerheid sê nie,” het Gatland aan die Daily Mail gesê.

Hoewel geen besonderhede vir die Leeus se toerwedstryde in Suid-Afrika al amptelik bekend gemaak is nie, blyk dit dat dit uit agt wedstryde sal bestaan, waarvan drie toetse sal wees.

Die eerste wedstryd sal in die eerste naweek van Julie plaasvind en die laaste toets vroeg in Augustus.

Daar is verlede jaar aangekondig dat dié Leeus-toer net vyf weke lank sal wees, die kortste in dié tradisieryke span se geskiedenis.

Onder Gatland het die Leeus die reeks teen Australië met 2-1 gewen en in Nieu-Seeland het hulle die reekslouere met 1-1 gedeel. Een van die toetse in daardie reeks het gelykop geëindig.

Gatland, wat Wallis die afgelope 12 jaar afgerig het, sal volgende jaar aan die stuur van die Chiefs in Nieu-Seeland wees, voordat hy sy aandag in 2021 ten volle op die Leeus toespits.

Die Springbokke het hul laaste reeks teen die Leeus, in 2009, met 2-1 gewen.

– Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.