Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus-toer in SA op koers ondanks virus
Loftus Versfeld was in rooi getooi toe die Britse en Ierse Leeus en die Springbokke mekaar in 2009 daar in ’n epiese toets gepak het. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie hoop soortgelyke ondersteuning sal volgende jaar moontlik wees. Foto: Gallo Images

Die Britse en Ierse Leeus se toer Suid-Afrika toe in 2021 sal voortgaan soos oorspronklik beplan is.

Verlede maand is bespiegel dat dié toer ter wille van die vestiging van ’n wêreldwye rugbykalender tot Oktober en November aanstaande jaar uitgeskuif kan word.

’n Gesamentlike verklaring is egter Woensdag deur die Britse en Ierse Leeus (BIL) en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) uitgereik, waarin gesê word dat die toer steeds van die eerste week in Julie tot vroeg in Augustus in 2021 sal plaasvind.

Die toer skop af op 3 Julie met ’n wedstryd teen die Stormers in die Kaapstad-stadion en eindig op 7 Augustus met die derde toets tussen die Bokke en Leeus op Ellispark in Johannesburg. Die eerste toets is óók in die Goudstad, maar in die FNB-stadion, en die tweede in die Kaapstad-stadion. Dié wedstryde is onderskeidelik op 24 en 31 Julie.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Foto: Gallo Images

“Die Covid-19-pandemie het baie ontwrigting op die sportkalender veroorsaak, maar ná omvattende gesprekke kan ons nou aankondig dat die toerdatums onveranderd bly,” sê Ben Calveley, besturende direkteur van die BIL.

“Daar word veral uit ’n logistieke oogpunt baie gedoen met die beplanning van ’n Leeus-toer, so dit was van kritieke belang dat ’n besluit ver vooruit geneem word. Ek’s veral bly dat ons duidelikheid kan gee aan al die Leeus-ondersteuners wat graag Suid-Afrika toe wil reis.”

Die Leeus-toer sal nie net vir rugbygeesdriftiges ’n aangename ervaring wees nie. Indien die koronavirus-pandemie oor ’n jaar goed onder beheer is, kan duisende Britse en Ierse rugbyliefhebbers in Suid-Afrika opdaag en die plaaslike ekonomie ’n aansienlike hupstoot gee.

Dit sal veral deur sakeondernemings soos hotelle, gastehuise en restaurante – wat almal nadelig deur die Covid-19-pandemie geraak is – ’n groot finansiële inspuiting gee.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, sê hy is bly dat die toerdatums onveranderd gelaat is.

“Die hele Suid-Afrika sien uit daarna om die Leeus te verwelkom. Ons maak planne om te sorg dat besoekende ondersteuners ’n uitsonderlike ervaring sal hê.”

Toerprogram:

3 Julie: Leeus t. Stormers (Kaapstad)

7 Julie: t. Suid-Afrikaanse uitnodigingspan (Port Elizabeth)

10 Julie: t. Haaie (Durban)

14 Julie: t. Suid-Afrika ‘A’ (Nelspruit)

17 Julie: t. Bulle (Pretoria)

24 Julie: Eerste toets (Johannesburg)

31 Julie: Tweede toets (Kaapstad)

7 Augustus: Derde toets (Johannesburg)

Meer oor:  Koronavirus  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Covid-19  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.