Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus-toer op Duane se wenslysie

Op 34 trek Duane Vermeulen al ’n jaar of twee verby die ouderdom waar talle spelers hul uittrede uit toetsrugby aankondig, maar hy hoop om nog baie in ’n Springbok-trui te vermag.

Duane Vermeulen lak vir James Hook in 2009 se wedstryd tussen die Opkomende Springbokke en die Britse en Ierse Leeus. Foto: Gallo Images

Trouens, hy sal wag tot daar vir hom gesê word dat hy die stryd teen ouderdom verloor het.

“Uit ’n sielkundige perspektief dink ek dat ek tot 2027 kan speel!” het hy Donderdag gesê.

“Ek moet met SA Rugby praat en ons sal sien hoe dinge uitdraai. As ek my deel na wense doen en die groep haal, sal ek uiteraard vir die Bokke wil bly speel.

“Ek sal beslis my bes op die veld doen en dan is dit oor aan die afrigters, bestuurspan en keurders om te besluit.”

Met dié dat Vermeulen Donderdag as Suid-Afrika se Rugbyspeler van die Jaar gekroon is, is dit voor die hand liggend dat hy in die Springbokke se groep vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus gaan wees.

Hy het reeds ’n proesel van wedstryde teen die Leeus gehad, maar nie by die hoofgereg uitgekom nie.

“Ek het in 2009 vir die Opkomende Bokke en Westelike Provinsie teen die Leeus gespeel, maar nie as ’n Springbok nie,” sê hy.

As jy jou land verteenwoordig en kan opdraf in ’n Bok-trui, is dit een van die beste dinge wat jy in jou lewe kan doen.

“Dis een van die dinge op my bucket list wat ek graag ’n regmerkie by wil sit. As ek gelukkig genoeg kan wees om in daardie span teen hulle te kan speel, ongeag waar die wedstryde plaasvind, sal dit die laaste regmerkie wees. Ek sien regtig daarna uit en hoop dat ek betrokke kan wees.”

Vermeulen sê sy vuur en passie om vir die Bokke te speel is nog lank nie geblus nie.

“As jy jou land verteenwoordig en kan opdraf in ’n Bok-trui, is dit een van die beste dinge wat jy in jou lewe kan doen.

“Ek dink as jy die dag ophou, gaan jy steeds probeer om vir die span te speel. Selfs al sit jy langs die kantlyn as ’n ondersteuner gaan jy steeds jou deel doen.”

Indien die Leeus-toer volgens sy oorspronklike skedule voortgaan, sal Vermeulen op die dag van die eerste toerwedstryd in Suid-Afrika – teen die Stormers in die Kaapstad-stadion op 3 Julie – sy 35ste verjaardag vier.

Heel moontlik sal hy in die seldsame posisie wees van ’n sportman wat ná die Leeus-toer op sy eie terme kan groet. Hy weet ook dat hy die boodskap helder sal kry as hy nie meer goed genoeg is nie.

“Die afrigters sit en ontleed elke speler wat nou in ons kompetisies speel. Daar word ’n ontleding van elke span se groep gedoen om te kyk waartoe ’n speler in staat is, hoe hy onder druk vaar, wat sy tekortkominge is en wat goed is wat hy kan bied,” sê Vermeulen.

“As ek bly speel en die manne soos Jacques (Nienaber, Bok-afrigter), Rassie (Erasmus, Saru se direkteur van rugby) en die keurkomitee is tevrede met my spel, dan sal ek aanhou speel.

“As hulle nie gelukkig is nie, gaan hulle beslis met jou daaroor gesels, en sê ‘hoor hier, jy raak stadig of dink jy’s geregtig (op ’n plek in die span)’.

“Daar’s met almal goeie kommunikasie, so ek dink hulle sal dit reguit aan my sê as ek nie meer goed genoeg is nie. Maar vir nou geniet ek nog waarmee ek besig is en kom ons kyk hoe dinge vorentoe verloop.”

Meer oor:  Bokke  |  Duane Vermeulen  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.