Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus verloor stryd om Marx te behou

Malcolm Marx verlaat die Leeus.

Ná feitlik ’n maand van onderhandelings het die Leeus gefaal in sy poging om sy Springbok-ster op Ellispark te hou.

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, het egter wel daarin geslaag om Marx se Springbok-spanmaat Elton Jantjies in die Goudstad te hou.

Jantjies is oorreed om nie ’n aanbod van die Franse klubspan Pau te aanvaar nie.

Malcolm Marx vir die Shining Arcs in Japan in aksie. Foto: Getty Images

Die armdrukkery oor die loopbaan van die Bok-haker Marx duur al van 14 Mei af, toe hy die 21-dae-klousule gebruik het om sy kontrak by die Leeus op te sê nadat onderhandelinge deurgevoer is om die spelers se salarisse te sny. Ingevolge dié toegewing kon Suid-Afrikaanse spelers of afrigters hul bestaande kontrakte opsê ten gunste van ’n beter aanbod oorsee.

Slegs enkele dae nadat die Leeus aangekondig het dat Marx een van die spelers is wat sy bande met die franchise verbreek, het Straeuli-hulle ’n ommekeer gemaak.

Volgens Straeuli het Marx ’n kontrak met die franchise gesluit wat eers op 1 Julie in werking sou tree en hulle het geglo dié kontrak was bindend.

Rapport verneem die Bok-haker was wel by magte om die 21-dae-klousule te gebruik en dat die twee partye die laaste paar weke nie tot ’n vergelyk kon kom om Marx vir die Leeus te behou nie.

“Ons het alles in die stryd gewerp om Malcolm te behou, maar sy agent het uiteindelik besluit om dit nie te aanvaar nie,” het ’n woordvoerder van die Leeus aan Rapport gesê.

Elton is een van ons topspelers en kaptein en sal altyd gejag word deur ander klubs. Hy bly steeds toegewyd aan die Leeus.

Marx sal glo voortaan vir Frans Ludeke se Japanse klubspan Kubota Spears speel nadat hy vanjaar se Superreeks misgeloop het omdat hy deur die Shining Arcs gekontrakteer was.

Die Leeus het nou vir Marx, Tyrone Green (Harlequins), Ruan Vermaak (NTT Docomo Red Hurricanes), Shaun Reynolds (USON Nevers Rugby) en Neil de Bruin (hulpafrigter, NTT Docomo Red Hurricanes) weens die 21-dae-klousule verloor.

Straeuli-hulle het egter groter sukses in hul gesprekke met die 29-jarige Jantjies gehad.

Aanvanklik was die Franse klub Agen op sy spoor, waarna ’n ander Franse klub, Pau, die Leeus versoek het om Jantjies vroeër van sy kontrak vry te stel, of aan die klub te leen. Pau beskou Jantjies as ’n goeie plaasvervanger vir Colin Slade. Hulle het die Leeus tot Donderdagmiddag gegee om op hul versoek te antwoord.

Straeuli het besluit dat Jantjies te waardevol is om af te staan en die versoek van Pau is geweier.

“Elton is een van ons topspelers en kaptein en sal altyd gejag word deur ander klubs. Hy bly steeds toegewyd aan die Leeus,” het die woordvoerder van die Leeus gesê.

Die Leeus is intussen in gesprekke met verskeie spelers soos die Bulle se Burger Odendaal en Jaco Visagie.

Daar is selfs sprake dat die Franse klubspan Stade Français twee Bokke, Lionel Mapoe en Ruan Combrinck, kan vrystel en albei weer vorentoe Leeus kan word.

Nog twee voormalige Leeus, Ruan Dreyer en Corné Fourie, is glo op pad weg by die Engelse klubspan Gloucester waar Johan Ackermann tot onlangs die afrigter was.

Een van Dreyer se oud-stutmaats by die Leeus, Jacques van Rooyen, het ook nie sy kontrak met die Japanse klubspan Docomo Red Hurricanes, waar Ackermann nou die nuwe hoofafrigter is, verleng nie. Die moontlikheid bestaan dat ook hy in Johannesburg ’n tuiste kan skep.

Die Leeus wou nie gister oor individuele spelers praat nie. “Ons is deurgaans besig om ons spelerskorps te versterk en sal aankondig as en wanneer ooreenkomste bereik is,” is gesê.

Meer oor:  Malcolm Marx  |  Rugby  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.