Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus verwag Bokke op hul beste

Die Springbokke halfgebak teen die Britse en Ierse Leeus ná die lang onderbreking in hul toetsprogram?

Warren Gatland (links) en Neil Jenkins toe hulle in 2009 in Suid-Afrika in Ian McGeechan (middel) se afrigtingspan diens gedoen het vir die Britse en Ierse Leeus. Foto: Getty Images

Aikôna, het die Leeus se hoofafrigter, Warren Gatland, asook die skopafrigter, Neil Jenkins, vandeesweek aan joernaliste gesê.

“Soos ek dit verstaan, gaan daar vir hulle (die Bokke) ’n paar opwarmwedstryde wees voordat hulle teen die Leeus speel,” het Gatland vandeesweek met die bekendmaking van sy hulpafrigters vir die reeks gesê.

“In die toerkontrak word daar ook voorsiening gemaak vir die Suid-Afrikaanse spelers om in die opwarmwedstryde teen die Leeus te speel.”

Warren Gatland as ’n lid van die Britse en Ierse Leeus se afrigtingspan in Suid-Afrika in 2009. Ian McGeechan was toe die hoofafrigter. Foto: Getty Images

Die Leeus speel teen die Stormers, Haaie en Bulle, asook in wedstryde teen ’n Suid-Afrikaanse Uitnodigingspan en SA A, voor die eerste toets op 24 Julie.

Daar is ook planne vir die Bokke om voor die reeks in opwarmwedstryde te speel, maar die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het nog nie daardie program bevestig nie.

Met dié dat die Bokke se laaste toets die Wêreldbeker-eindstryd in November 2019 was, sê Gatland dit is vir hom moeilik om peil te trek op Suid-Afrikaanse rugby.

“Daar’s wel etlike van hul spelers in die buiteland gesetel wat ons dophou. Faf de Klerk, by Sale, word fyn dopgehou.”

Gatland het die grootste lof vir Suid-Afrika se triomfantelike Wêreldbekerveldtog in Japan.

“Suid-Afrika was uitstaande en het met die verloop van die toernooi net beter geraak,” sê hy.

“Hulle het teruggekeer na hul DNS, wat fisieke rugby behels. Ons sal dit in gedagte moet hou.

“Ongeag watter Bok-span speel, dit sal taai wees. Om teen die wêreldkampioen te speel, is baie opwindend, maar ook ’n yslike uitdaging.”

Jenkins, wat Suid-Afrika in 1997 as ’n Leeus-speler en in 2009 as ’n lid van die afrigtingspan getoer het, meen die Bokke sal “meer as gereed” wees.

“Etlike van Suid-Afrika se spelers speel hier (in die Noordelike Halfrond) en daar’s ook plaaslike rugby in Suid-Afrika,” sê hy.

“Vir Suid-Afrikaanse spelers is dit ook ’n unieke geleentheid om teen die Leeus te speel, want daar’s net elke 12 jaar ’n toer. Dis dus ook vir hulle ’n groot geleentheid.”

Jenkins het die Bokke as ’n “fantastiese span” beskryf.

“Ek’s seker hulle sou graag tussen die WB-toernooi en nou meer rugby wou gespeel het, maar dit was weens die Covid-19-pandemie nie moontlik nie. By my is daar nie twyfel nie dat hulle gereed vir ons sal wees, soos ons ook vir hulle.”

Meer oor:  Warren Gatland  |  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.