Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus: Welpies moet leer brul in Superrugby
Swys de Bruin gaan vir eers by die Springbokke betrokke wees as ’n aanvals- en agterlyn-konsultant, maar hy is tevrede dat die Leeus se Curriebeker-span in goeie hande is.Foto: Gallo Images

Om nege drieë teen enige span op Curriebeker-vlak te druk, wil gedoen word en is iets wat jy enige dag sal aangryp, sê Swys de Bruin, die Leeus se Superrugby-afrigter.

De Bruin is in die Curriebeker-reeks as hoofafrigter vervang deur Ivan van Rooyen, maar De Bruin was steeds die afgelope Vrydagaand op Ellispark waar hy die sege met 62-41 oor Griekwas dopgehou het.

“Ek is baie opgewonde oor wat ek gesien het. Hierdie span wil voortgaan om aanvallende en opwindende rugby te speel. Daar was nege o.21-spelers betrokke by die Curriebeker-groep en dít voorspel goeie dinge.

“Soos die Curriebeker vanjaar daar uitsien, gaan dit ’n gestoei afgee vir spanne om vir die uitspeelstryde te kwalifiseer, maar die belangrikste vir ons is om in vanjaar se reeks te sien watter spelers die volgende stap na Superrugby sal kan neem,” het De Bruin Maandag gesê.

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus, glo die span beskik oor ’n goeie mengsel van ervaring met Springbokke soos Ross Cronjé, Courtnall Skosan, Marvin Orie en Andries Coetzee, tesame met die juniors wat nou om plekke in die uitsoekspan meeding.

“In al die spanne gaan jy nuwe name kry en dit is wat opwindend is van hierdie reeks. Die ondersteuners word nou die eerste keer aan van die sterre van môre blootgestel,” sê Straeuli.

Die ondersteuners word nou die eerste keer aan van die sterre van môre blootgestel.
Rudolf Straeuli

Hy het veral ’n span soos die Haaie uitgelig as een waar nuwe talent hulle op die Curriebeker-toneel aangekondig het in hul sege oor die Blou Bulle.

Die Leeus speel juis Saterdag in ’n wegstryd in Pretoria teen die Bulle. Volgens Straeuli is daar nie enige beserings wat sy span sal kortwiek nie en sal daar uit dieselfde groep gekies kan word wat teen Griekwas gespeel het.

Verskeie staatmakers van die Superreeks sal egter weens beserings nie deel van die Curriebeker-reeks vorm nie.

Een van hulle is die flank Cyle Brink, wat puik vertoon het in die onlangse Super-eindstryd teen die Crusaders in Christchurch en toe in die Springbok-groep ingesluit is, maar ’n enkelbesering opgedoen het wat hom nou etlike maande buite aksie gaan hou.

So ook sal die loskopstut Dylan Smith weens ’n skouerbesering die Curriebeker-reeks misloop. Beserings gaan die skrumskakel Nic Groom en die haker Robbie Coetzee ook langs die kantlyn hou vir die Curriebeker-seisoen.

Sean Erasmus (Gallo)

Wat die afrigter van die SA Skolespan, Sean Erasmus, betref, sê Straeuli hy en De Bruin sal met Erasmus praat oor waar hy ingespan gaan word voordat hy hom in November heeltyds as breier by die Leeus aansluit.

Hy was ook die laaste klompie jare die afrigter van die Hoër Jongenskool Paarl.

Die verwagting is dat Erasmus by die junior strukture betrokke sal raak.

“Ons sal kyk waar die behoefte is om hom in te span. Ek en Swys ken hom van ons dae by die Haaie, toe hy ook daar betrokke was. Hy is veral ’n kenner van die afbreekpunte en voorspelers,” sê Straeuli.

Oor die Leeus se o.21-span se verpletterende sege met 120-0 die afgelope Vrydag oor die Oostelike Provinsie, sê Straeuli dit is tellings soos hierdie wat dit belangrik maak dat daar by Donderdag se vergadering met die SA Rugbyunie (Saru) goed oor die kompetisiestrukture besin word.

“Dit is seker net billik om hulle (OP) die kans te gee om hul strukture behoorlik te vestig. Daar is heelwat dinge waaroor besin moet word, maar wie is ek nou om vir hulle te wil sê hoe om hul dinge te doen?

“In belang van Suid-Afrikaanse rugby moet daar egter altyd daarna gestreef word om die reekse so mededingend moontlik te hê,” sê hy.

Meer oor:  Rudolf Straeuli  |  Swys Joubert  |  Johannesburg  |  Leeus  |  Superrguby  |  Jong Spelers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.