Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Everitt: Sanele is ’n ‘spesiale speler’

Jy kan nie karakter koop nie.

Dit was die woorde van die Haaie se voorspelerkaptein, Tera Mtembu, nadat sy span Sondagmiddag sy aanspraak op die Curriebeker lewend gehou het deur die Leeus op Ellispark met 30-28 te klop.

Die Haaie-skrumskakel Sanele Nohamba loop oor van vreugde terwyl hy oor die doellyn draf vir een van sy twee drieë Sondag teen die Leeus. Foto: Gallo Images

Die kampioen het hierdie sege nodig gehad om nog asem te haal in vanjaar se reeks.

Dit is nou die Haaie se vyfde agtereenvolgende Curriebeker-sege oor die Leeus.

Die Johannesburgers was net meer as ’n week gelede nog die enigste onoorwonne span in die reeks, maar ná twee agtereenvolgende tuisnederlae is die kat in hul hoenderhok.

Nie net gaan hulle nou moet veg vir ’n tuishalfeindstryd nie, maar daar is ’n moontlikheid dat hulle glad nie die uitspeelrondes sal haal nie.

Die afrigter, Ivan van Rooyen, kon ná die wedstryd nie ’n antwoord verskaf op die tergende vraag hoekom die gereelde skopper, Shaun Reynolds, nie die laaste doelskop behartig het wat die telling gelykop sou maak nie.

Die plaasvervanger-skrumskakel, Dillon Smit, het geskop en gemis.

Reynolds het wel vroeër self skeef gekorrel, maar ’n mens sou steeds verwag dat só ’n deurslaggewende skop deur hom behartig sou word.

Die teleurstelling was duidelik op die gesig van veral die skrumskakel en kaptein, Ross Cronjé, wat toe nie meer op die veld was nie. Hy het verstom gelyk oor daardie vreemde besluit.

Die Leeus het veral in die lynstane gesukkel en agterlangs heelwat besit verloor.

Cronjé het erken dit grens aan malligheid om aan te hou met iets wat duidelik nie werk nie.

“Die Haaie het ons lynstane baie goed ontwrig en dit was ’n groot probleem vandag. Ons het dom foute gemaak en dit het ons gekos,” sê Van Rooyen.

“Dit was ’n baie frustrerende wedstryd en ons kon net nie aan die gang kom nie. Ek was teleurgesteld met ons vertoning vandag. Ons het eintlik nog glad nie gekliek hierdie seisoen nie,” het Cronjé nie doekies omgedraai nie.

Sean Everitt, afrigter, wat erken het hy meen sy span was effe gelukkig om te wen, was vol lof vir die vertonings van die jong skakelpaar, Sanele Nohamba en Boeta Chamberlain.

By nabetragting was die verskil tussen die spanne ’n skepdoel van Chamberlain in die eerste helfte, waarmee hy in sy eerste Curriebeker-wedstryd koelkop geslaag het.

“Sanele is ’n spesiale speler en hy wil verantwoordelikheid hê soos om die skoppe pale toe neem,” sê Everitt.

Puntemakers:

Haaie 30 (20): Drieë: Jeremy Ward (2), Sanele Nohamba. Doelskoppe: Nohamba: (3). Strafdoele: Nohamba (2). Skepdoel: Boeta Chamberlain.

Leeus 28 (10): Drieë: Shaun Reynolds (2), Tyrone Green, Marnus Schoeman. Doelskop: Reynolds. Strafskoppe: Reynolds (2).

Meer oor:  Haaie  |  Leeus  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.