Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Legendariese Bok-flank Pelser sterf

Martin Pelser, wat op sy dag as een van die beste Springbok-losvoorspelers gereken is, is Woensdag in die ouderdom van 84 oorlede.

Martin Pelser as jong man. Foto: South Africa’s Rugby Legends

Pelser, wat ook vir die destydse Transvaal uitgedraf het, het in Mei ’n beroerte gehad.

In sy fleur het hy 11 toetse en 26 toerwedstryde vir die Springbokke gespeel.

Hy het sy debuut in 1958 teen Frankryk gemaak.

Pelser het een glasoog gehad, maar dit het hom nie gestuit om met die bestes mee te ding nie.

Die legendariese All Black-slot Colin Meads het hom uitgesonder as een van die taaiste teenstanders waarmee hy te doen gekry het.

Frik du Preez, Suid-Afrika se Rugbyspeler van die Eeu, het Pelser in sy “beste Springbokspan” op flank saam met Jan Ellis gekies.

Ook die voormalige rugbybaas dr. Danie Craven het ’n hoë dunk van Pelser gehad.

Martin Pelser (regs) vroeër jare saam met ’n gewese Bok- en Transvaalse spanmaat Hennie van Zyl. Foto: Gallo Images | Wessel Oosthuizen

“Hy was sterk, vinnig en het ’n wonderlike voorgevoel gehad,” sê Craven in die boek The Craven Tapes.

Volgens Craven was Pelser ook iemand wat geweet het hoe om sy vuiste op die rugbyveld te gebruik.

Maar Pelser was te veel van ’n heer om eerste moeilikheid te soek.

Chris Schoeman skryf in sy boek South Africa’s Rugby Legends dat Pelser sy debuut vir Transvaal as 20-jarige gemaak het.

Hy het glo in 1962 ’n aanbod aanvaar om vir ’n plaaslike rugbyliga-span te speel.

Die liga het nooit ’n werklikheid geword nie, maar Pelser is betaal en is eers tien jaar later toegelaat om weer rugby af te rig.

In sy vyftigs was Pelser glo steeds superfiks en het hy onder meer die Comrades-marathon kafgedraf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.