Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Legendariese Craven leef voort in boek

Dis al goed oor ’n kwarteeu sedert die eertydse rugbybaas dr. Danie Craven begrawe is, maar die legende sal altyd in Stellenbosch en ook ver buite die Eikestad voortleef.

Hierdie keer is dit in ’n pragtige boekie vol huldeblyke, Craven Stories, wat saamgestel is deur Louis Blom, ’n voormalige slot van die Maties en Westelike Provinsie, en Hanlie Swart.

Die dekblad van ‘Craven Stories’, ’n boek propvol huldeblyke aan die eertydse rugbybaas, dr. Danie Craven.

Onder diegene wat hulde aan Craven in dié boek bring, is oud-Springbokke soos Jannie Engelbrecht, Dawie Snyman, Morné du Plessis, Jan Boland Coetzee, Divan Serfontein en Hennie Bekker.

Volgens Blom, wat in die laaste Matie-span gespeel het wat deur Craven afgerig is, is hierdie projek reeds in 2010 gebore. Die plan was toe om ’n gedenkboekie te publiseer vir ’n viering van Craven se 100ste verjaardag, maar die uurglas het leeggeloop voordat iets gedoen kon word.

“Ek het die huldeblyke op my rekenaar gehou en prof. Mohammad Karaan (die Maties-rugbyklub se president) het dit gesien. Hy het gesê dit moet gepubliseer word en het die wiele aan die rol gekry,” sê Blom.

Enige geld wat uit dié boek gemaak word, gaan aan die Craven-beursfonds oorbetaal word om behoeftige studente te help.

Craven se unieke karakter word pragtig deur al die huldeblyke geskets. Daar word selfs ook gesê dat Craven die rede was dat Suid-Afrika meestal in sy dae die wêreld se toonaangewende rugbyland was.

Dok was ’n mense-mens. Hy het die tegniek verfyn om met studente en veral die rugby-ouens te werk.
Louis Blom

Dis egter die sketse van sy persoonlikheid wat veral sterk deurkom. Onder meer het hy nie sommer Matie-spelers vir goeie vertonings geprys nie.

“Hy het altyd gesê as hy met jou raas, is hy lief vir jou, maar as hy niks sê nie moet jy weet hy het jou afgeskryf,” onthou Blom.

“Dok was ’n mense-mens. Hy het die tegniek verfyn om met studente en veral die rugby-ouens te werk. Hy was nie te nice nie, en met sekere ouens taaier as ander.”

Wie sal dan nie graag meer oor Dok wil lees nie?

In Karaan se woorde toe hy te hore gekom het van die manuskrip en dit deurgelees het: “Daar was soveel waarde te put uit die stories dat ons ’n werklike poging moes aanwend om dit te publiseer. Ek hoop dat dit in die herbou van ons land en samelewing groot waarde kan inhou.”

* Craven Stories word uitgegee deur African Sun Media en kos R350.

Meer oor:  Dok Craven  |  Danie Craven  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.