Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Lekker’ om weer Afrikaans te praat

Om ná maande weens die inperking weer jou voete op die oefenveld te sit is een ding – maar om boonop weer in jou moedertaal te kan klets terwyl jy sweet, is ’n anderste lekker.

Dis presies hoe Harlon Klaasen, voormalige veelsydige agterspeler van die Kings, voel.

Dié boorling van Malmesbury in die Wes-Kaap het van 2017-’19 vir die Baaienaars in die Pro14-reeks diens gedoen. In 2019 is hy ingelig dat hy nie meer deel van die Kings se planne is nie – wat hom toe na Frankryk geneem het, waar hy vir die klubspan Dijon gespeel het.

Harlon Klaasen sit af op ’n lopie in ’n Pro14-wedstryd tussen die Kings en Cheetahs in 2019 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Griekwas het Klaasen reeds verlede jaar gekontrakteer, en hy moes hom in Mei by hulle aangemeld het, maar weens die Covid-19-pandemie het hy eers later in die land aangekom. Maar nou is hy in Kimberley aan die sweet, en sy fokus is daarop om die beste van die geleentheid te maak.

“Dit gaan baie goed by Griekwas. Dis regtig lekker om weer in Suid-Afrika te wees. Hier is ’n lekker gees in die span, en ek voel dat ek lekker aanpas en goed met die manne oor die weg kom,” sê die 26-jarige Klaasen.

“Dit is ook lekker om weer ’n bietjie Afrikaans met jou vriende en spanmaats te kan praat. Dit was baie lekker in Frankryk, maar terselfdertyd word rugby daar heeltemal anders gespeel.

“Aan die begin was dit vir my moeilik om aan te pas, juis omdat dit so anders is as waaraan ek in Suid-Afrika gewoond is. Maar ek het later geleer om aan te pas. Hulle sal eerder pale toe skop en fokus baie op skrums en lynstane – waar daar meestal met die voorspelers gespeel word,” sê hy.

Klaasen is beslis ook nie alleen en eensaam in Kimberley nie, aangesien Berton Klaasen, wat somtyds as sy broer beskou word, het hom reeds vroeër vanjaar by die Poubloues aangesluit.

Dié twee het baie wedstryde saam vir die Kings gespeel.

“Dit is opwindend en ek sien baie daarna uit om weer saam met Berton te speel, omdat hy soos ’n mentor is. Hy sal my altyd leer en rigting gee om nie net ’n beter speler op die veld te wees nie, maar ook van die veld af.

“Ek dink dit is ook die rede hoekom ons ’n goeie kombinasie is, omdat ons daar vir mekaar is en om die beste in mekaar na vore te bring,” sê Klaasen.

Hoewel hy ewe tuis op vleuel as buitesenter is, verkies hy die nr. 13-trui – “omdat ek daarvan hou om nader aan die bal te wees en sodoende meer waarde tot die span te kan toevoeg”.

Vir Griekwas sal sy koms beslis ’n inspuiting wees.

’n Kollega wat goed vertroud met sy spel is, laat weet: “Daai ou het dit.”

Meer oor:  Kings  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.