Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Lerm koester Mapimpi-vriendskap

“Wat sê jy?”

Dít is elke keer die eerste ding wat die Springbok-vleuel Makazole Mapimpi aan die Southern Kings-losvoorspeler Ruaan Lerm sê wanneer hy hom bel.

Ruaan Lerm sal Vrydag in Ierland in sy 50ste wedstryd vir die Southern Kings in aksie wees. Foto: Gallo Images

Lerm speel Vrydag in sy 50ste wedstryd vir die Kings en hy sê die vriendskappe wat hy sover in sy rugbyloopbaan gesmee het, is vir hom die groot hoogtepunt daarvan.

Die Kings speel Vrydag in Cork, Ierland, in ’n Pro14-wedstryd teen Munster.

Lerm sê sy vriendskap met Mapimpi kom van 2017 af, toe hulle albei vir die Kings begin speel het.

“Mapimpi se Engels was in daardie stadium nie baie goed nie. Myne ook nie. Maar ons het die hele tyd op toer of tydens ’n blaaskans langs mekaar beland,” vertel Lerm.

“Dan het Mapimpi met my in Xhosa gesels en ek met hom in Afrikaans. En dan sou ek vir hom vra: ‘Wat sê jy?’ En dis wat hy my nou elke keer vra wanneer ons mekaar bel of as ons mekaar sien.”

Mapimpi het van die Kings aanbeweeg na groter dinge en was tydens verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi een van die Springbokke se grootste uitblinkers. Hy spog ook nou met die prestasie dat hy die eerste Bok is wat ’n drie in ’n Wêreldbeker-eindstryd kon druk.

“Wat sê jy, Ruaan?” Ruaan Lerm geniet sy vriendskap met die Springbok-vleuel Makazole Mapimpi geweldig baie. Foto: Gallo Images

Die 27-jarige Lerm bevind hom steeds by die Kings, waar hy saam met die span van Super-rugby na Pro14-rugby beweeg het.

“Ek het nog my eie doelwitte wat ek wil bereik. Ek wil onder meer help om hierdie skip om te keer sodat die Kings suksesvol in die Pro14-reeks kan wees,” sê Lerm.

Hoewel die span die afgelope paar jaar deur moeilike tye is, is Lerm nie iemand wat net oorgee en onder ’n boom gaan sit en in sy sakdoek huil nie.

“Ek dink ons het almal ’n bietjie hond in ons wat ons laat aanhou baklei. Daar is ’n groot hond in my en ek hou nooit op baklei nie, ook nie in die lewe nie,” sê die gewilde losvoorspeler.

“Ek sien uit na my 50ste wedstryd. Wanneer jy rugby speel, dan sien jy hoe die grotes hul 50ste of 100ste wedstryde speel en ek is opgewonde dat ek ook so iets kan doen,” sê hy.

“Die afgelope paar jaar was ’n interessante reis. Ek het na Port Elizabeth gekom as iemand wat nog maar min eersterangse wedstryde gespeel het.

“Nou is ek een van die ervare manne, al is ek nog jonk. Dit was ’n groot ondervinding en ek voel ek is nou baie meer volwasse.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Makazole Mapimpi  |  Pro14  |  Superrugby  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.