Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Lesers gee die Springbokke punte

Netwerk24 se lesers beoordeel die Bokke ná hul vertoning in Saterdag se Rugbykampioenskaptoets teen Australië in Brisbane. Elke speler kry 'n punt uit 10.

Kyk hoe vergelyk die punt met dié wat Netwerk24 Saterdag in die Bok-Rapport toegeken het.

WILLIE LE ROUX

Lesers sê:  2.7/10

Netwerk24 sê: 3/10 

Wat het van die Willie le Roux geword wat in Junie se toetse teen Engeland gespeel het? Sy spel op die aanval en sy hanteerwerk in Saterdagaand se nat toestande was oninspirerend. Is een van die seniors wat nie na vore onder druk getree het nie. Hyself sal teleurgesteld met sy spel in Brisbane wees.

MAKAZOLE MAPIMPI

Lesers sê: 5.1/10

Netwerk24 sê: 6/10

Dit was 'n reuse terugslag toe hy die speelveld in die eerste helfte verlaat het. Hy het in die tydperk wat hy op die veld was, gemaklik op die verhoog as 'n aanvaller en verdediger gelyk. Sy plettervat op Kurtley Beale was een van die min Bok-hoogtepunte. Hy rond goed af vir sy eie vyfpunter.

JESSE KRIEL

Lesers sê: 4.5/10

Netwerk24 sê: 5/10

Sy insluiting het 'n groot verbetering met die Bokke se verdediging in die middelveld teweeggebring. Min fout kan met sy vertoning gevind word. Hyself sal wel teleurgestel wees oor 'n voetaangee wat hy in die eerste helfte na Aphiwe Dyanti gegee het toe hy die bal eerder moes laat loop het.

DAMIAN DE ALLENDE

Lesers sê: 4.5/10

Netwerk24 sê: 5/10

Hy was een van die min Bok-agterspelers wat tuis in die nat toestande gelyk het. Sy verdediging was rotsvas. Hy dra ook die bal sterk. 'n Mens kan nie onthou dat hy iewers 'n fout gemaak het nie. Sy tweestryd met André Esterhuizen haal duidelik die beste uit hom. Kan wel meer kreatief wees op die aanval.

APHIWE DYANTYI

Lesers sê: 3.8/10

Netwerk24 sê: 4/10

Om regverdig teenoor hom te wees, het hy min of geen kans op die aanval gekry. Hy maak 'n paar blapse op die verdediging. Dít kan waarskynlik aan sy gebrek aan ervaring op toetsvlak toegeskryf word. Hy benodig duidelik nog ervaring in nat toestande. 'n Groot toets wag in Wellington op hom.

ELTON JANTJIES

Lesers sê: 2.8/10

Netwerk24 sê: 3/10

Skop aanvanklik goed na die pale. Kry ook in die eerste helfte skaflike lengte met sy kantlynskoppe.'n Mens kry nooit die gevoel dat hy beheer van sake in die nat toestande neem toe die Bokke die oorhand gehad het nie. Daardie grondskoppie van hom vyf meter weg van die Wallabies se doellyn wat uitgerol het, is onverskoonbaar.

FAF DE KLERK

Lesers sê: 3.2/10

Netwerk24 sê: 3/10

Hy het weer alles gegee en min fout kan met sy toewyding gevind word. Sy besluitneming was egter nie in die kol. Hy maak 'n paar belangrike foute op kritieke tye in die wedstryd. Soos die geval in 2016 was, gun teenstanders hom min ruimte ná sy goeie spel in Junie se toetse. Hy boer agteruit.

WARREN WHITELEY

Lesers sê: 3.7/10

Netwerk24 sê: 4/10

As 'n speler wat bekend is vir sy goeie dissipline, staan hy ongewoon 'n strafskop of twee af. Beleef ook nie sy beste aand met sy verdediging nie. Hy lyk nog ongemaklik met sy rol in die Bokke se huidige lostrio. Hy hanteer wel die bal met tye goed.

PIETER-STEPH DU TOIT

Lesers sê: 5.1/10

Netwerk24 sê: 5/10

Kry 'n paar plettervatte in. Toon geen genade aan Wallabies met die wyse hoe hy by die losgemale skoonmaak nie. Hy was een van die Bokke se sterkste baldraers. Hy is wel in tweede helfte aan die slaap gevang toe Will Genia besluit het om steelkant om te glip wat byna tot 'n Wallaby-drie lei.

SIYA KOLISI

Lesers sê: 3/10

Netwerk24 sê: 3/10

As 'n baldraer verdien hy 'n veel hoër punt. Hy het in die nat toestande beïndruk met sy balhantering. Maar ook hy moet verantwoordelikheid aanvaar vir daardie lynstaaningooi van Mbonambi wat tot Toomua se drie gelei het. Dit het na 'n misverstand tussen hom en sy haker gelyk. As kaptein moet hy sterker leiding neem.

FRANCO MOSTERT

Lesers sê: 4.3/10

Netwerk24 sê: 4/10

Soos altyd het hy 'n baie hoë werkverrigting gehad. Soos gewoonte geraak het was hy een van die Bokke wat die meeste duikslae uitgevoer het. Sukkel wel om gereeld as baldraer oor die voordeellyn te kom, hoewel hy soos altyd nie balbesit in die kontaksituasies afstaan nie.

EBEN ETZEBETH

Lesers sê: 4.7/10

Netwerk24 sê: 5/10

Verrig goeie werk as die ontvanger van inskoppe in die eerste helfte. Toon groot verbetering met sy dissipline ná die toets in Mendoza. Hy was een van die Bokke se voorste baldraers. Hy moet egter saam met Mbonambi pa staan vir daardie lynstaan wat die Bokke in die eerste helfte in die Aussies se kwartgebied verloor.

FRANS MALHERBE

Lesers sê: 4.6/10

Netwerk24 sê: 5/10

Tref die oog verskeie kere met die duikslae wat hy in die vastelos uitvoer. Hy het veral 'n paar goeie duikslae naby die Bokke se doellyn in die eerste helfte ingekry. Soos altyd het hy sy man in die skrums gestaan. Hy het Saterdag min kans as baldraer gekry. Hy sal sy werkverrigting steeds wil verbeter.

BONGI MBONAMBI

Lesers sê: 2.6/10

Netwerk24 sê: 3/10

Daardie ingooi van hom wat tot Matt Toomua se drie gelei het, was een van die groot oomblikke in die toets wat die gety terug in die Wallabies se guns gedraai het. Hy het vroeër ook 'n belangrike ingooi naby die Wallabies se doellyn gemis. Hy het ook 'n belangrike duikslag verbrou. Skrum wel goed en bring sy kant in die vastelos.

STEVEN KITSHOFF

Lesers sê: 5.7/10

Netwerk24 sê: 6/10

Dra die bal verskeie kere goed. Dwing in die eerste helfte strafskoppe met sy skrumwerk af. Bring sy kant by die afbreekpunte waar hy met tye soos 'n losvoorspeler gewoel het. Hy hoort sonder enige twyfel in die Bok-beginspan. Maak wel 'n slegte blaps deur die bal in die kwartgebied van die Wallabies te verloor.

PLAASVERVANGERS

MALCOLM MARX

Lesers sê: 4.3/10

Netwerk24 sê: 4/10

Mis ook 'n lynstaan, maar woel in vastelos.

TENDAI MTAWARIRA

Lesers sê: 3.6/10

Netwerk24 sê: 4/10

Was stil toe hy opgestuur is.

WILCO LOUW

Lesers sê: 4.1/10

Netwerk24 sê: 4/10

Skrum sterk.

RG SNYMAN

Lesers sê: 4.1/10

Netwerk24 sê: 4/10

Maak groot impak, maar sy dissipline was swak.

FRANCOIS LOUW

Lesers sê: 3.5/10

Netwerk24 sê: 4/10

Hy was so-so.

EMBROSE PAPIER

Was nie op die veld nie.

HANDRÉ POLLARD

Lesers sê: 3.6/10

Netwerk24 sê: 4/10

Lyk ook nie gemaklik in die nat toestande nie.

CHESLIN KOLBE

Lesers sê: 3.6/10

Netwerk24 sê: 4/10

Kry min kans op die aanval.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Brisbane  |  Wallabies  |  Bok-Rapport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.