Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Lesers gee die Springbokke punte

Netwerk24 se lesers beoordeel die Bokke ná hul vertoning in Saterdag se Rugbykampioenskaptoets teen die All Blacks in Wellington. Elke speler kry 'n punt uit 10.

Kyk hoe vergelyk die punt met dié wat Netwerk24 Saterdag in die Bok-Rapport toegeken het.

WILLIE LE ROUX

Lesers sê:  7.6/10

Netwerk24 sê: 8/10 

Hy het die geelkaart afgestaan, maar het een van die belangrike duikslae van die wedstryd in die doodsnikke uitgevoer. Sy posisionele spel was uitstaande. Vir 'n slag het hy weer soos in die reeks teen Engeland aangeval. Daardie drie van hom was goeie beloning vir sy puik spel. Sy lugspel was 'n kenmerk van sy vyfstervertoning.

JESSE KRIEL

Lesers sê: 7.7/10

Netwerk24 sê: 9/10

Ná sy vertoning in die Westpac-stadion, kan hy vorentoe dalk weer 'n kans op vleuel kry. Soos altyd het hy die bal sterk gedra op die aanval. Hy wys weer waarom hy as die Bokke se voorste verdediger agterlangs beskou word. Nadat hy terugskuif senter toe, beïndruk hy ook met sy organisering van die Bokke se verdediging.

LUKHANYO AM

Lesers sê: 6.6/10

Netwerk24 sê: 7/10

Sy senuwees het aanvanklik geknaag. 'n Mens kon sien die All Blacks het 'n spesifieke plan gehad om hom en Aphiwe Dyanti se kant aan te val. Hy was egter die speler wat die duikslag gemaak het wat tot Aphiwe Dyanti se eerste drie gelei het. Soos die toets gevorder het, het hy meer gemaklik op die verdediging gely

DAMIAN DE ALLENDE

Lesers sê: 7.4/10

Netwerk24 sê: 9/10

Hy is miskien nie 'n Sonny Bill Williams met daardie sogenaamde X-faktor nie, maar speel al sedert die toets teen die Wallabies baie goeie rugby. Sy verdediging, veral die wyse hoe hy teenstander in die Westpac-stadion teruggedra het in sy duikslae, was ongelooflik. Hy dra die bal sterk in kontak.

APHIWE DYANTYI

Lesers sê: 8.4/10

Netwerk24 sê: 9/10

Ná 'n begin wat hy liefs sal wil vergeet, het hy teen die einde soos 'n speler gelyk wat die Bokke se volgende Bryan Habana kan word. Hy kan met groter ervaring een van die gevaarlikste aanvallers op die rugbyplaneet word. Die jongeling het in die tweede helfte selfs uitstekend oomblikke as 'n verdediger beleef.

HANDRÉ POLLARD

Lesers sê: 8.4/10

Netwerk24 sê: 9/10

Was dit nie vir sy skopskoen nie, het die Bokke verloor. Danksy 'n foutlose skopvertoning kon die Bokke telborddruk bou. Soos Justin Marshall vooraf voorspel het, het hy die voordeellyn goed aangeval en die All Black-verdediging voortdurend aan die raai gehou. Pas soomloos in op binnesenter toe hy die beseerde De Allende moes vervang.

FAF DE KLERK

Lesers sê: 8.3/10

Netwerk24 sê: 9/10

Die Springbok-skrumskakel het Aaron Smith onder ongelooflike druk geplaas en was sy baas in die Westpac-stadion. Sy werkverrigting en durf was prysenswaardig. Sy taktiese skopwerk was nie altyd in die kol nie, maar dan het hy self sy foute gaan regmaak.

WARREN WHITELEY

Lesers sê: 8.4/10

Netwerk24 sê: 9/10

Ná die vertoning het hy alle kritiek dat hy nie ‘n losvoorspeler van toetsgehalte is nie by die kantlyn uitgeskop. Hy het ‘n ontsaglike werkverrigting gehad. Dit was by verre sy oortuigendste vertoning nog in ‘n Bok-trui. Daardie duikslag van hom op TJ Perenara sal nie gou deur Bok-ondersteuners vergeet word nie.

PIETER-STEPH DU TOIT

Lesers sê: 9.4/10

Netwerk24 sê: 10/10

Is daar tans ‘n beter seweflank as hy in wêreldrugby? Sy plettervatte waarmee hy die All Blacks teruggeduik het, was goud werd. Hy was ook een van sy span se beste baldraers. Hy was eenvoudig asemrowend. Was veral waardevol met sy fisieke inklimspel by die afbreekpunte en hoe hy die All Blacks daar skoongemaak het.

SIYA KOLISI

Lesers sê: 7.8/10

Netwerk24 sê: 9/10

Waar hy uitgeblink het as baldraer in die vorige twee Rugbykampioenskap-toetse, was hy die keer ‘n yster met sy verdediging. Hy kry sy hande dikwels op die bal by die afbreekpunte om die All Blacks se besit te vertraag. Hy lei deur voorbeeld en groei as kaptein. Sy kommunikasie met skeidsregters is aan die verbeter.

FRANCO MOSTERT

Lesers sê: 8/10

Netwerk24 sê: 8/10

Doen soos altyd die basiese take goed. Hy roep die Bokke se lynstaantekens. Daarvoor alleen verdien hy 'n hoë punt. Hy het weer 'n hoë werkverrigting gehad. Statistieke agterna sal aandui dat hy soos weekliks een van die Bokke is wat die meeste duikslae in Wellington se roemryke sege uitgevoer het.

EBEN ETZEBETH

Lesers sê: 7.9/10

Netwerk24 sê: 8/10

Toe dit bekend geword het dat Brodie Retallick die toets misloop, sou hy altyd die tuisspan probleme met sy fisiekheid gee. Hy het verskeie kere die bal sterk gedra en bring sy kant op die verdediging. As 'n senior moet hy volpunte kry vir die wyse waarop hy Siya Kolisi die afgelope week op en van die speelveld as kaptein ondersteun het.

FRANS MALHERBE

Lesers sê: 7.8/10

Netwerk24 sê: 8/10

Sy spelpeil het op so 'n wyse onder Rassie Erasmus verbeter, dat 'n mens skoon vergeet het dat die Bokke sover sonder vaskoppe soos Coenie Oosthuizen, Vincent Koch en Trevor Nyakane in die Rugbykampioenskap klaarkom. Dit was as 'n verdediger wat hy veral vroeg in die toets sy stempel afgedruk het.

MALCOLM MARX

Lesers sê: 8.1/10

Netwerk24 sê: 8/10

Sy ingooiwerk by die lynstane was met die uitsondering van een blaps goed. Hy het die bal vroeg in die kragmeting sterk gedra. Soos altyd help hy verseker dat die All Blacks stadige balbesit by die afbreekpunte verkry. Die ysterman kry ook 'n paar goeie duikslae in. Hy word aan sy eie hoë standaarde gemeet.

STEVEN KITSHOFF

Lesers sê: 8.8/10

Netwerk24 sê: 9/10

Lewer nog 'n vertoning wat onderstreep dat hy die wêreld se voorste loskopstut is. Skrum sterk teen 'n All Black-agttal wat die Bokke nog 'n jaar gelede in die afdeling ore aangesit het in Albany. As baldraer kry hy die Bokke dikwels oor die voordeellyn. Hy is stil-stil besig om in 'n baldief te ontwikkel en gee die Kiwi's probleme by die afbreekpunte.

PLAASVERVANGERS

BONGI MBONAMBI

Lesers sê: 7.3/10

Netwerk24 sê: 8/10

Verdedig soos 'n monster en gooi goed in.

TENDAI MTAWARIRA

Lesers sê: 7.2/10

Netwerk24 sê: 8/10

Skrum sterk in die laaste oomblikke.

WILCO LOUW

Lesers sê: 7.1/10

Netwerk24 sê: 7/10

Kry sterk regterskouer in.

RG SNYMAN

Lesers sê: 7.6/10

Netwerk24 sê: 8/10

Beïndruk met sy fisieke verdediging. Plaas All Black-lynstane onder druk.

FRANCOIS LOUW

Lesers sê: 6.7/10

Netwerk24 sê: 7/10

Plaas sy lyf op spel.

ROSS CRONJÉ

Kry nie speelkans nie.

ELTON JANTJIES

Lesers sê: 7/10

Netwerk24 sê: 8/10

Wys goeie hande met tye.

CHESLIN KOLBE

Lesers sê: 7.7/10

Netwerk24 sê: 8/10

Daardie onderskepdrie van hom sal lank onthou word. Verdediging uitstekend in doodsnikke.

Meer oor:  Wellington  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Bok-Rapport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.