Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Lid van GW-pronkspan in 1970 oorlede
Koos WaldeckFoto: Griekwaland-Wes Rugbyunie

Koos Waldeck, wat lid was van Griekwaland-Wes se rugbyspan wat die Curriebeker in 1970 gewen het, is Donderdag oorlede.

Die 77-jarige Waldeck het in die Gariep-hospitaal in Kimberley gesterf nadat hy volgens sy vrou, Susan, die laaste ses weke in ’n koma was ná ’n hartaanval en beroerte.

Waldeck, wat naby Jacobsdal geboer het, het Griekwas in sy speeldae in 66 wedstryde tussen 1963 en 1974 verteenwoordig. Toe Griekwas in 1970 onverwags die Curriebeker gewen het deur Buurman van Zyl se gedugte Noord-Transvaal-span in die eindstryd te klop, was Waldeck Mannetjies Roux se sentermaat.

Griekwas het daardie dag met 11-9 in Kimberley koning gekraai, danksy ’n strafdoel in die doodsnikke deur die flank Peet Smith.

Dit was juis Donderdag presies 49 jaar sedert daardie oorwinning, wat die derde keer was wat Griekwas die Curriebeker kon verower.

Smith praat met lof oor sy voormalige spanmaat en vriend.

“Ek en Koos kom al omtrent 70 jaar saam. Ons was saam op laer- en hoërskool en het ná skool ook saam vir De Beers en Griekwas gespeel. Ons het nooit kontak verloor nie.

Griekwas se span in 1970. Van links is, voor: Buddy Swartz, Popeye de Bruyn, Koos Waldeck, Joggie Viljoen; tweede ry: Piet van Deventer, Piet Visagie, Charlie Marais (president), Mannetjies Roux (k), Ian Kirkpatrick (afrigter), Denys Vorster, Tos Smith; derde ry: Braam Fourie, Piet de Wet (sameroeper van die keurders), Jumbo Harris (keurder), Joff van Rensburg (keurder), Ronnie Bauser (keurder), Daantjie Botes (keurder), Zirk Jansen (keurder), Boo Sassin (sekretaris), Loekie van der Merwe; agter: Jurie Lategan, Harold Rosseau, Wim van Zyl, Jannie van Aswegen, Gert Scheepers, Soon Nel, Gideon Botha, Peet Smith en James Combrinck. Foto: Argief

“Jy sou Kosie eerder aan jou kant wou hê as teen jou. En ek praat nie net van op die rugbyveld nie. Hy was klein van postuur, maar jy was nie bang as hy aan jou kant was nie,” sê Smith.

“Hy was ’n harde ou wat nie geld rondgegooi het nie. Ons het nog in April gholf gespeel en agterna ’n bier gedrink en oor die ou dae gesels,” sê Smith.

Waldeck is die vyfde lid van Griekwas se span van 1970 wat dood is. Die haker James Combrinck, die slot Jannie van Aswegen, die flank Piet van Deventer en die vleuel Kat Myburgh is reeds oorlede.

Japie Ehlers toe hy verlede jaar sy 104de verjaardag gevier het. Foto: Distrikspos

* Japie Ehlers wat in die lewe die oudste oud-provinsiale speler in die land was, is Maandag in die ouderdom van 105 jaar oorlede.

Ehlers het in 1940-’41 vir Boland skrumskakel gespeel as lid van die Van der Stelklub, wat destyds aan die nuwe unie, die Boland, geleen is.

Hy het in 1942 as Matie-speler vir WP gespeel en in 1943-’44 in Wellington onderwys gegee en weer vir die Boland gespeel.

Hy het later vir baie jare wetenskap doseer aan die Hottentots-Holland Hoërskool in die Strand.

Meer oor:  Curriebeker-Reeks  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.