Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Liefling Derick wil weer korrel. . . in NFL

Sy rekord vir die meeste punte in ’n Curriebeker-eindstryd, sowel as ’n Superrugby-halfeindstryd staan steeds, maar Derick Hougaard, sê dit is weer tyd om sy skopstewels aan te trek. . . maar nie vir rugby nie.

Nee, Loftus Versfeld se “Liefling” wil nou probeer om ’n plek in die Amerikaanse Voetballiga (NFL) oop te speel.

Derick Hougaard (37) lê aan pale toe vir die Bulle in 2008 se Super 14-reeks. Hy wil nou ’n skopper in Amerikaanse voetbal word. Foto: Gallo Images

Dié gewese Blou Bul se rugbyloopbaan is deur beserings kortgeknip, maar hy glo dat daar vir hom nou, op 37-jarige ouderdom, ’n kans is om sy loopbaan as beroepsportman op sy terme af te sluit.

Die geleentheid om vir oulaas te wys dat hy nog baie skop in hom het, het in die gedaante gekom van World Wide Scholarships (WWS Africa). Dié organisasie, is deur Munya Maraire, n voormalige Amerikaanse universiteitsvoetbalspeler, en Bart Schoeman, voormalige hoëprestasiebestuurder vir die Goue Leeus Rugbyunie, gestig met die hoop om plaaslike talent na Amerika te lok, waar hulle kontrakte vir NFL-spanne kan probeer losspeel.

WWS Africa sal in Desember proewe hou vir belangstellendes, met talentwerwers van Amerika wat na Suid-Afrika kom om te kyk wat die land kan bied.

Hoewel die fokus hoofsaaklik op belowende skolespelers is wat nie sportkontrakte of -beurse in Suid-Afrika ná matriek kon kry nie, wil Hougaard die talentwerwers wys dat hy as skopper in voetbal net so akkuraat kan korrel soos in sy dae as rugbygeneraal.

“Ek het ’n wonderlike 14 jaar as rugbyspeler gehad, maar wanneer enige atleet se loopbaan kortgeknip word deur ’n besering, dan is dit ’n geval van onafgehandelde sake,” sê Hougaard in ’n verklaring.

Alle atlete droom van ’n tweede geleentheid en hierdie is myne.

“Om sport as ’n beroep te beoefen, is ’n leefwyse en elke beroepsatleet sal verkies om op hul eie terme hul loopbaan te beëindig. Ek het rugby wêreldwyd gespeel en om my loopbaan as ’n Amerikaanse voetbalspeler in Amerika af te sluit, sal ’n ongelooflike sege vir my wees.”

Hougaard glo dat hy minstens nog vyf jaar op beroepsvlak kan speel.

“Alle atlete droom van ’n tweede geleentheid en hierdie is myne.

“Daar is geen waarborge in sport nie en die Covid-19-pandemie het my geleer om nie my drome op lange baan te skuif nie en eerder so proaktief as moontlik te wees. Ek het reeds vir my ’n volledige uitrusting van Amerika bestel en het begin oefen om fiks te word en reg vir die proewe te wees.”

Dit was toe hy tussen 2009 en 2012 vir Saracens in Engeland uitgedraf het, wat sy uitsonderlike korrelwerk daartoe gelei het dat hy die eerste keer aangemoedig is om “gridiron” as ’n toekomstige opsie te oorweeg.

“Amerikaanse voetbal is bekend daarvoor dat dit ’n presiese spel is, met min ruimte vir foute. Dit is daarom dat hulle ’n ongelooflike akkuraatheid met skoppe vereis.”

“My destydse besering het my aanvanklike hoop om in die NFL te speel verydel, maar ek kon nie die geleentheid om uiteindelik my slag in hierdie opwindende en hoogs mededingende sport te wys, laat verbygaan nie.”

Hougaard het in 2015 sy rugbystewels weggepak.

Nog ’n gewese liefling van Loftus, Naas Botha, het in 1983 – op uitnodiging van die Dallas Cowboys – na Amerika gegaan en probeer om as stelskopper in dié NFL-span plek te kry. Hy het ’n paar voorseisoense wedstryde vir die Cowboys gespeel, maar nie die finale groep gehaal nie. Hy het toe vir Dallas Harlequins rugby gespeel en gehelp om die nasionale klubtitel in 1984 te wen.

Botha het daarna na Suid-Afrika teruggekeer en sy rugbyloopbaan hier voortgesit.

• Die WWS-werwingskamp sal van 14 tot 18 Desember by Camp Discovery, sowat 60 km buite Pretoria, gehou word.

Enigeen wat belangstel kan by wwsscoutcamp.com inskryf.

Meer oor:  Derick Hougaard  |  Nfl
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.