Sonder om die aap heeltemal uit die mou te laat, het Harold Verster, uitvoerende hoof van die Vrystaat-Cheetahs Maatskappy, dit duidelik laat blyk dat daar wel ’n toekoms vir die Cheetahs is.

Die Vrystaat-Cheetahs hou kajuitraad tydens hul kragmeting in die Superrugby Unlocked-reeks vroeër vandeesmaand met Griekwas in Bloemfontein. Foto: Gallo Images
Dit volg ná die onlangse Pro14-afjak, toe die Cheetahs en die Southern Kings gehoor het dat hulle nie meer aan die Pro14-rugbyreeks sal deelneem nie. Die reeks word volgende jaar uitgebrei na 16 spanne, met die Leeus, Bulle, Stormers en Haaie wat Suid-Afrika se nuwe verteenwoordigers sal wees.
Verster (70) het Woensdag by die jaarvergadering van die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) in sy toespraak gesê dat alles nie verlore is nie.
“Ek belowe julle daar is ’n blink toekoms. Ons het vandag teruggekeer van Johannesburg nadat ons daar onderhandelinge gehad het. Ons het gisteroggend (Dinsdag) ’n vergadering met Saru (die Suid-Afrikaanse Rugbyunie) gehad. Daar is ’n toekoms,” sê Verster.
“Ons sal binnekort in ’n posisie wees om weer eens aan te kondig dat die Vrystaat teruggebons het, net soos ons tevore ook gedoen het. Hulle het ons uit Superrugby geskop, ons uit Pro-rugby geskop, maar elke keer het ons teruggebons.”
Vir baie stoere Cheetahs-ondersteuners was die afjak om uit die Pro-reeks geskop te word ’n bitter pil om te sluk, nadat Vrystaters se deelname aan die Superreeks ook in 2017 beëindig is.

Harold Verster, uitvoerende hoof van die Vrystaat-Cheetahs Maatskappy, voor die aanvang van Woensdag se jaarvergadering. Foto: Mlungisi Louw
Boonop het die jongste afjak onsekerheid by die spelers oor hul toekoms geskep, met iemand soos die stut Luan de Bruin wat die unie juis daarom verlaat het.
Verster, wat die laaste keer die jaarvergadering as uitvoerende hoof bygewoon het, het ná die vergadering aan Netwerk24 herhaal dat daar gewis planne op die tafel is.
“Dinge het nie heeltemal uitgewerk soos wat ons dit wou hênie. Maar ek het die afgelope drie maande hard saam met Jerry (Segwaba, president van die VRU) en Ryno (Opperman, voorsitter van die direksie) gewerk om iets te vind. Om ’n nalatenskap te los wat ek dink die moeite werd is.
“Ons gaan iets wonderliks nalaat. Dit is vir my ’n troos. Daar is iets mooi op pad. Ek het nie verniet vir drie maande saam met Jerry en Ryno gewerk om iets te bou nie,” sê Verster.
“Dit was vir my ’n skokkende en hartseer ervaring (toe die Cheetahs hul plek in die Pro-reeks verloor het). Ons het dan die deur oopgeskop in die Pro14. Niemand het van die Pro12 (die kompetisie voor die Cheetahs en Kings se toetrede) geweet nie, ek moet erken ek het ook nie veel daarvan geweet nie.
“Hulle het ons met ope arms ontvang en ons het wonderlik gevaar. Was dit nie vir Covid-19 nie, het ons vanjaar in die halfeindronde gespeel. Saru kom en gooi ons uit; dit is skokkend en hartseer. Maar nou bou ons weer iets anders.”