Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blou Bulle en Boland is nou rugby-vennote
Adriaan Carelse van die Boland onlangs teen Griekwas in aksie. Foto: Gallo Images

Die Westelike Provinsie Rugbyunie se besluit om die Suidwestelike Distrikte (SWD) ’n vennoot van die Stormers te maak, het die weg gebaan vir ’n onverwagse alliansie tussen die Blou Bulle en die Boland.

Alan Zondagh, direkteur van rugby by die Boland, het Dinsdagaand bevestig dat die pad vorentoe saam met die Blou Bulle gestap sal word.

Die fyner besonderhede van dié ooreenkoms is nog onduidelik, maar in praktiese terme kan die Bulle as’t ware die transformasie-bul by die horings pak deur hul hande op talentvolle bruin spelers uit die Wes-Kaap te kry.

Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy, wou nie kommentaar lewer nie.

Dié skuiwe volg op ’n finansiële geelwortel wat met die toekenning van franchise-spanne vir die Super-reeks uitgehang is aan groot unies om vennootskappe met kleiner unies aan te gaan.

Terwyl die SWD en die Boland destyds albei streekvennote by die Stormers was, het die SWD mettertyd besluit om sy gewig by die Southern Kings in te gooi. Hy het geen voordeel daaruit geput nie en is nou terug by die Stormers.

Op sy beurt het die Boland jaarliks ’n bedrag geld van die WP ontvang en voorseisoense wedstryd teen die Stormers gespeel.

’n Interessante dinamika het tussen die provinsies ontstaan nadat die sakekonglomeraat Remgro onlangs begin het om die Boland Rugbyinstituut te finansier. Remgro is ’n aandeelhouer in sowel die WP as die Blou Bulle.

In ’n verklaring die afgelope week, waar die WP sy vennootskap met die SWD aangekondig het, word melding gemaak van die uitruil van afrigters en spelers, en die smee van bande tussen dié provinsies se skole en klubs.

Die Blou Bulle het ’n sterk teenwoordigheid in die SWD en skep die room van skole-talent.

Hennie Baartman, president van die SWD, het gesê ’n vennootskap met die WP sal hopelik daarop neerkom dat talentvolle jong spelers in die Wes-Kaap bly.

“Ons wil ook graag van ons beste junior spelers by die WP se Rugbyinstituut ingeskryf kry sodat hulle kan terugkeer om vir ons te speel. Hulle sal dán vir die Stormers beskikbaar wees,” het Baartman gesê.

Die SWD hoop óók die WP kan vir hom spelers leen in die Curriebeker-reeks en wil toegang kry tot die intellektuele kapitaal van afrigters.

Wat kan die SWD aan die WP bied?

“Die WP beskou dit as ’n geleentheid om die Stormers as handelsmerk in die Wes-Kaap uit te bou eerder as dat alles in Wellington en Stellenbosch ophou,” het Baartman gesê.

Meer oor:  Blou Bulle  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.