Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Lionel verknies hom nie oor Bok-dwarsklap
Lionel Mapoe op pad doellyn toe vir een van sy twee drieë teen Argentinië in Mendoza. Foto: Getty Images

Al moes hy diep teleurgesteld gewees het toe hy nie deel van die Springbok-groep was vir die twee toetse in Australasië nie, wys Lionel Mapoe dit glad nie.

Dié Bok-senter het nog een oomblik twee drieë as plaasvervanger in die Bokke se verloortoets teen Argentinië in Mendoza gedruk en die volgende oomblik is hy uit die groep weggelaat en vrygestel om Curriebeker-rugby vir die Leeus te gaan speel.

“Ek het verkies om my nie daaroor te verknies en dit op ’n negatiewe wyse te verwerk nie,” het Mapoe Dinsdag by die Leeus se oefening op Ellispark gesê.

“Ek beskou dit eerder in ’n positiewe lig dat ek die kans kry om nou weer genoeg wedstryde agter die rug te kry en my spel te verskerp. Ek voel ook ek het niks om uit ’n Springbok-oogpunt te bewys nie,” vertel hy.

“Dit is nou iets wat gebeur het (om uit die Bok-groep gelaat te word) en ek besef jy moet bereid wees om daardie soort van ding te verwerk,” sê hy.

“Ek geniet dit om weer Curriebeker-rugby te speel. Dit is die eerste keer in drie jaar dat ek weer vir die Leeus in dié reeks uitdraf. Al my fokus is nou hier en ek gee my alles vir die span,” sê hy.

“Ek is die ou man wat nou saam met die jonges speel,” glimlag dié 30-jarige.

Hy geniet die Curriebeker-rugby en sê die tempo is gewis stadiger as op toetsvlak. “Jy het hier tyd om die wedstryd te kan lees en jou besluite te neem,” sê hy.

Mapoe is ook bly dat hy sy kombinasie met Howard Mnisi, saam met wie hy gespeel het toe hulle hul albei enkele jare gelede in die Leeus-opset wou vestig, kan hervat.

“Ons kombineer goed en Howard is ’n spesiale speler. Ons speel goed saam,” vertel Mapoe.

Wat Saterdag se stryd op Ellispark teen die Curriebeker-kampoen, die Westelike Provinsie, betref, sê Mapoe dit gaan besonder taai wees.

Ek beskou dit eerder in ’n positiewe lig dat ek die kans kry om nou weer genoeg wedstryde agter die rug te kry en my spel te verskerp. Ek voel ook ek het niks om uit ’n Springbok-oogpunt te bewys nie
Lionel Mapoe

“Daar is beslis nie iets soos maklike wedstryde in die reeks nie en jy moet elke week opdaag met jou beste spel om sukses te kan behaal.

“Ons weet dit gaan ’n baie fisieke stryd wees en soos daar maar altyd gesê word, gaan die wedstryd voorlangs gewen word.

“Ons durf nie terugstaan vir hulle voorlangs nie en sal met aggressie moet speel,” glo hy.

Met die Kapenaars se Blitsbok Ruan Nel, wat oorkant hom stelling gaan inneem in die middelveld, sê Mapoe hy beskou die vlugvoetige Nel as ’n baie goeie teenstander.

“Dit is egter ’n spansport en jy kan nie net na individue kyk nie. Daar heers ook hier by ons ’n wonderlike atmosfeer met die jong afrigters wat so entoesiasties is.

“Die onus is hierdie naweek op ons om te wys waartoe ons in staat is,” sê hy.

Meer oor:  Leeus  |  Springbokke  |  Lionel Mapoe  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.