Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Loffie: ‘SA is vrot van rugbytalent’

Die groot vraag ná die Suid-Afrikaanse Skolerugbyspan se skittervertonings die afgelope paar dae is of daar die regte strukture is om dié spelers vir senior rugby voor te berei.

Skoert, Poema! Jan-Hendrik Wessels, voorryman van die Suid-Afrikaanse Skolespan, druk ’n Argentyn Dinsdag in die Paarl letterlik uit sy pad. Foto: Gallo Images

Só sê Loffie Eloff, voormalige afrigter van Suid-Afrika se o.19-span, nadat die SA Skolespan Argentinië se o.18-span Dinsdag met 48-14 in die Paarl afgeransel het.

Suid-Afrika het Wallis ook Vrydag met 23-13 geklop. Behalwe vir dié oorwinnings, is die wyse waarop die Skolespan veral teen die Argentyne gespeel het bemoedigend vir die toekoms. Suid-Afrika het hardlooprugby opgedis, ’n speelstyl wat nommerpas is vir die tipe spelers in die span.

“Ek het nog altyd hoop gehad vir die toekoms. Met die goeie oorwinning (oor Argentinië) het dit ongetwyfeld gewys dat die Junior Bokke in die toekoms in die eindstryd van die o.20-Wêreldtoernooi kan speel.

“Ons is vrot van die talent in Suid-Afrika en dit is eintlik hartseer dat daar nie vir almal plek in die stelsel is nie. Elke jaar is ek positief as ek die ongelooflike spelers by toernooie soos die Cravenweek sien.

“Die vraag is egter of die regte stelsels in plek is en of ons die talentvolle spelers daarop kan voorberei om rugby op ’n hoër vlak te speel,” sê Eloff, wat die SA o.19-span in 2003 en 2005 na wêreldtitels gebrei het.

Met unies wat minder skolespelers as tevore kontrakteer, tesame met die nuwe verkorte nasionale o.19-reeks, kan dit beteken dat baie talentvolle spelers ná skool, hul stewels wegbêre.

Die Junior Bokke het in 2012 die wêreldkroon gewen, maar kon sedertdien nog net een keer, in 2014, weer die eindstryd haal.

Tog sê Eloff die Skolespan se vertoning saam met die Springbokke se goeie spel die afgelope ruk gee hom opnuut hoop vir die toekoms.

“Kyk, ons het deur ’n moeilike paar jare gegaan wat betref afrigters en stelsels. Daarmee kraak ek egter niemand af nie.

“Die pad waarop Suid-Afrikaanse rugby nou is, is egter die regte pad. Alles dui daarop dat ons sukses in die toekoms kan behaal.”

Meer oor:  Sa Skolespan  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.