Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Loffie sê Div se aantygings onwaar
Peter de Villiers, voormalige Springbok-afrigter. Foto: Gallo Images

Dis nonsens dat Eugene (Loffie) Eloff ’n aanbod om Peter de Villiers se hulpafrigter te wees, van die hand gewys het omdat hy gedink het De Villiers gaan nie suksesvol wees as Springbok-afrigter nie of omdat hy bruin is.

Eloff, ’n voormalige Leeu-afrigter, en Gert Smal, voormalige Stormer-breier en Springbok-hulpafrigter, het deurgeloop in ’n video wat De Villiers op YouTube gedeel het as deel van die Black Lives Matter (BLM)-beweging in rugbygeledere.

In die video vertel De Villiers van teenkanting wat hy in sy rugbyloopbaan moes verduur, veral toe hy in 2008 as die eerste Springbok-afrigter van kleur aangestel is. Hy sê onder meer Eloff en Smal wou nie sy hulpafrigters wees nie, want daar is geglo hy sou nie langer as drie maande hou nie.

“Hulle laat dit in die video klink asof ons nie saam met ’n bruin afrigter wou werk nie. Hier is die feite: Toe hy my bel en die werk aangebied het, was dit nét nadat ek as die Leeus se Superrugby-hoofafrigter aangestel is,” het Eloff Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Eloff sê hy was ambisieus en wou sien of hy by die Leeus, wat toe gesukkel het, kon voortbou op sukses wat hy in 2003 en 2005 saam met die SA o.19-span gehad het.

Peter, dit is vir my ’n absolute voorreg dat jy my vra, maar ek gaan dit nie aanvaar nie, want ek is sopas gekontrakteer by die Leeus en ek wil my kontrak deursien.
Loffie Eloff

“My woorde aan hom was: ‘Peter, dit is vir my ’n absolute voorreg dat jy my vra, maar ek gaan dit nie aanvaar nie, want ek is sopas gekontrakteer by die Leeus en ek wil my kontrak deursien.’ En dit was dit. Ek het ook vir hom gesê ons rugbyfilosofie verskil, maar dit was nie die hoofrede waarom ek nee gesê het nie,” sê hy.

“Dit het absoluut niks daarmee te doen gehad of hy suksesvol sou wees of nie of omdat hy bruin is nie. Hy het later in sy boek ook geskryf ek wou nie onder ’n bruin man werk nie en dit is absoluut nie die waarheid nie. Dit was suiwer net oor die Leeus.

Loffie Eloff sê die vernaamste rede waarom hy nie Peter de Villiers se aanbod aanvaar het om sy hulpafrigter te word nie, was omdat hy sy kontrak by die Leeus wou eerbiedig. Foto: Gallo Images

“As ek die werk gevat het, was my pad oop. Maar my kop werk nie so nie. Ek is maar ’n lojale ou. ’n Mens staan soms voor groot besluite, maar ek is nie spyt nie.”

De Villiers se YouTube-video vorm deel van die BLM-beweging in rugby en die voormalige Bok-breier tel ook onder ’n groep van 50 swart afrigters en gewese spelers wat ’n verklaring onderteken het waarin hulle hul stem tot die gesprek voeg.

Eloff sê hy ken van die afrigters. Sy mening is dat ’n internasionale beweging, soos BLM, wat eintlik niks met rugby te make het nie, nie noodwendig die regte manier is om rugbygriewe oor te dra nie.

“As die groep afrigters en oudspelers voel hulle is verontreg in rugby, moet hulle nie hul standpunt onder ’n internasionale beweging se vaandel maak nie, maar liewer bymekaarkom en ’n vergadering met SA Rugby en die belanghebbendes aanvra,” sê hy.

“Almal het die reg op ’n stem, maar as ’n mens nou op hierdie bandwagon spring, raak dit ’n politieke ding. Dan wonder ek oor die juistheid van rugby binne daardie konteks.”

Dan wonder ek oor die juistheid van rugby binne daardie konteks.
Loffie Eloff

Eloff sê hy sal opstaan en sê dit maak nie saak watter kleur of watter ras of geloof jy is nie, as jy goed genoeg is, moet jy die geleentheid kry om ’n werk te kry.

“Ek is seker daar is baie goeie argumente onder en gronde vir hul griewe. Maar dat dit nou so verpolitiseerd geraak het, gaan veroorsaak dat die griewe van hul waarde gaan verloor.”

Smal het aan Netwerk24 gesê hy is nooit genader om De Villiers se hulpafrigter te wees nie.

De Villiers se YouTube-video:

 
Meer oor:  Peter De Villiers  |  Johannesburg  |  Afrigter  |  Blm  |  Rugby  |  Bokke  |  Swart  |  Leeus  |  Toetsrugby  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.