Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Loftus bekoor Nizaam Carr: ‘Ek wil bekers wen’
Nizaam Carr in die Wasps se kleedkamer saam met sy seun, Naeem, en sy vrou, Aa’esha.

Die Bulle het Nizaam Carr vandeesweek onder die Westelike Provinsie se neus weggeraap.

En noudat dié Springbok-losvoorspeler hom wel in Pretoria gaan vestig en nie in die Kaap nie, draai hy nie doekies om oor wat hy wil bereik nie.

Ek wou terugkeer Suid-Afrika toe om ’n laaste keer te probeer om die Superrugby-reeks te wen. Ek het die Curriebeker-reeks al twee keer gewen, en ek soek nou ’n derde titel.

“Ek wou terugkeer Suid-Afrika toe om ’n laaste keer te probeer om die Superrugby-reeks te wen. Ek het die Curriebeker-reeks al twee keer gewen, en ek soek nou ’n derde titel,” het die 29-jarige Carr uit Coventry in Engeland aan Rapport gesê.

Carr het die Bokke in vyf toetse tussen 2014 en 2016 verteenwoordig en sluit hom by Jake White se Bulle aan, selfs al het sy Engelse Premierliga-span, Wasps, vir hom ’n kontrakverlenging aangebied.

“Ek het 97 keer vir die Stormers gespeel, en ons het die konferensietitel gewen, maar dit is nie die groot prys nie,” sê Carr.

“Die feit is Jake is ’n afrigter van gehalte en die Bulle het reeds drie Superrugby-titels gewen.

“Die Bulle was gretig om my te teken. Ja, WP het belangstelling gewys, maar die Bulle het vinniger opgetree en gewys hulle wou my teken.

“Ek het niks teen WP nie. Hulle was nog altyd daar vir my en ek kan nie ’n slegte woord oor hulle sê nie.”

Nadat die nuus Vrydag aangekondig is, word Carr omtrent oorval met boodskappe.

“Vir eens is ek die man van die oomblik,” lag hy.

“Daar is baie ondersteuning. Ek kan dink dis sensitief omdat ek my hele lewe lank in Suid-Afrika vir WP gespeel het. Ek verstaan hoe gefrustreerd die ondersteuners moet wees.

“My familie gaan my gas gee. Die Bulle is mos maar die vyand. Ek weet mense sal my spot, maar as ek speel, sal hulle my ondersteun, of hulle die Bulle ondersteun of nie.”

Die Bulle se losvoorspeler­spens bult nou behoorlik. Die Bok-agtstemanne Duane Vermeulen en Arno Botha het reeds kontrakte met die Ligbloues onderteken, en Marco van Staden is ook reeds daar. Die groentjie Muller Uys, die oud-Skotse kaptein Josh Strauss en Tim Agaba, Ruan Steenkamp en Abongile Non­kontwana is ook almal op die Bulle se boeke.

Carr sien uit na die mededinging om plekke in die span.

“Ek probeer altyd waarde tot ’n span toevoeg, en is mal oor gesonde kompetisie. Dit gee jou die inspirasie om op jou beste te wees.

“Duane het ’n lang pad saam met my geloop. Ek het altyd opgekyk na hom, op en weg van die veld. Ek het saam met Arno Botha in die SA o.20-span gespeel, en hy was ’n ongelooflike kaptein. Marco van Staden het goeie kwaliteite in sy spel.

“Ek wil die beste wees en is bereid om hard te werk om ’n wenkultuur te skep en hopelik bekers te wen.”

By Wasps was hy ’n groot gunsteling onder die ondersteuners en is die afgelope week beskryf as een van die beste aankope wat die Engelse klub al gemaak het.

“Dit was ’n groot stap vir my om Wasps toe te gaan, omdat ek my hele lewe vir WP gespeel het. Maar dit was ’n goeie ervaring.

“Om in Engeland te speel, was moeilik. Die pas is anders en vir my was die Engelse Premierliga die moeilikste kompetisie in die wêreld.”

Vir nou wag hy saam met sy vrou, Aa’esha, en seun, Naeem, om terug te keer na Suid-Afrika sodra ’n vlug beskikbaar is, en homself in Pretoria te vestig.

Carr stel dit ook in die vooruitsig om sy Bul-spanmaats Kaapse kultuur aan te leer.

“As ons in die Kaap speel, sal dit lekker wees om ’n hotdog en milkshake daar by Wembley Roadhouse te gaan kry.”

Meer oor:  Nizaam Carr  |  Kontrak  |  Westelike Provinsie  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.