Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Loftus Versfeld se ‘Judas’ nou die redder
Jake White
Jake White voor ’n Super-wedstryd tussen die Brumbies en die Rebels in Melbourne in 2013. Foto: Getty Images

Jake White sê hy is vandag gryser en wyser as toe hy as Springbok-afrigter Loftus se mense moord laat skree het oor sy afjakkery van Victor Matfield en Derick Hougaard.

Net so was Loftus se uitjouery van Percy Montgomery net soveel vir White se ore bedoel as vir die Springbok-heelagter.

Vir White, wat pas as die Bulle se direkteur van rugby aangestel is, is dit alles water onderdeur die brug.

En, sê hy, hy voel die Bulle se ondersteuners moet dieselfde doen.

“Om eerlik te wees, jy kom nie die heeltyd oor die weg met almal nie. Selfs die onderonsie met Victor – hy’t vir my gespeel in die Wêreldbeker-eindstryd en was die Speler van die Wedstryd in die eindstryd in Parys. Al dink mense daar was spanning tussen ons, het hy in meer as 50 toetse vir my gespeel.

“Iets moes gewerk het om so ’n vertoning uit ’n ou soos hy te kry in ’n eindstryd. En Monty, mense het dalk nie van hom gehou nie, maar mense in die Kaap het nie van Naas Botha gehou nie, en ons weet hoe goed hy vir die Bokke gespeel het.

“Tyd het aanbeweeg en dit is nou ’n nuwe era. Ek is net dankbaar dat ek deel van ’n nuwe era in Bulle-rugby kan wees.”

Vir White is dit ’n uitdagende nuwe begin. En hy maak geen geheim van hoe ingenome hy is om op Loftus Versfeld te werk nie.

White erken toe hy jonger was, was sy droom altyd om die Bulle af te rig.

White se pa, Johan Westerduin, was ’n groot Blou Bul, vertel White.

Tyd het aanbeweeg en dit is nou ’n nuwe era. Ek is net dankbaar dat ek deel van ’n nuwe era in Bulle-rugby kan wees.

In sy kinderdae in Hatfield het hy die Ligbloues bewonder. En selfs as ’n jong afrigter, voordat hy nog daaraan gedink het om die Bokke af te rig, was sy droom om die Bloubul-afrigter te word.

“Ek het daaroor gedroom,” sê hy aan Rapport.

“My pa was ’n fanatiese Blou Bul-ondersteuner en hy sou vandag trots gewees het dat ek die pos aanvaar het.

“Dit was omdat ek weet hoe mal die mense in Pretoria oor rugby is dat ek die pos graag wou hê. Dit is een van die top- rugbyposte ter wêreld. Mense praat van spanne soos die Cru-saders in Nieu-Seeland, die Brumbies in Australië. Hulle praat van die Bulle in dieselfde asem. Hulle wen bekers. Dit is ’n fantastiese tradisie om te hê.

“Dit is soos om by een van die top-sokkerklubs, soos Liverpool of Manchester United, aan te sluit. Die Bulle is een van die grotes.”

“Ek het nog altyd gesê as jy na ’n span toe gaan, moet dit ’n span wees waar jy ’n indruk kan maak. Daar is geen twyfel dat die Bulle die een plek is waar ek sukses kan behaal nie.

“As jy na die trofeë kyk wat hulle al gewen het, die spelers wat hulle al gekweek het, die omgewing waarin hulle speel, dit maak van hulle ’n top-unie.

“Rugbykultuur leef in die stad.

“Dit is ook een van die top-afrigtingsposte ter wêreld. Ek het gespring toe ek gevra is of ek sou belang stel. Ek sien uit daarna.”

LEES OOK:

White se geskiedenis, veral as Bokafrigter, het hom nie die gunsteling onder Blou Bul-ondersteuners gemaak nie. Montgomery is luid uitgejou in ’n toets op Loftus, en daar was die geval toe Matfield glo beseer teruggestuur is uit Australië.

Matfield het die volgende week vir die Bulle gespeel, al was hy volgens White “beseer”.

En die Bulle-ondersteuners het hom ook oor die kole gehaal toe hy nie vir Hougaard vir die Bokke wou kies nie.

White glo hy het as mens verander sedert daardie dae. Die grappe oor die Jake White wat oral oorsee werk soek, is nie nuut nie. Maar hy voel dit moet in konteks gesien word.

“Toe ek die Bokke afgerig het, was ek 40 jaar oud. Toe ons die Wêreldbeker gewen het, was ek net 43 jaar oud. Baie dinge het sedert 2007 gebeur; ons praat nou van ’n verloop van 13 jaar. Sedertien het ek in Frankryk, Australië en Japan afgerig.

“Ek was gelukkig genoeg om in dié lande te kon afrig, en ek het besef dat jy ongelooflik baie oor afrigting in die buiteland leer. Jy leer ontsettend baie van jouself. Jy kan nie elke span op dieselfde manier afrig nie. Jy kan nie elke nasie dieselfde afrig nie – hoe jy ’n Japanse speler afrig, is baie anders as ’n Australiese seun.

“In Japan vereis die stelsel dat elke rugbyspeler ’n graad moet hê en jy teken spelers uit universiteit uit. Jy kan jouself indink hoe jy hom afrig – ’n speler met ’n graad wat 23 jaar oud is, is baie anders as ’n 19-jarige seun wat na ’n Superrugbyspan toe gaan of deur die Franse klubstelsel kom.

So ja, ek het verander. Ek is nie dieselfde ou nie. Maar ek het baie ondervinding opgedoen wat ek nou weer met die Bulle kan deel.

“Soos jy die pad loop, leer jy ook baie van jouself.

“Die ander groot uitdaging met afrigting in Frankryk en Japan is die vertalers wat altyd daar is. Jy moet baie versigtig wees hoe jy afrig, want wat ook al jy vir die vertaler sê, moet sin maak vir die spelers.

“Jy leer baie oor die boodskappe wat jy gee, dit moet duidelik wees, anders word die spelers verward. En ons almal weet verwarde spelers kan chaos in jou span veroorsaak.

“So ja, ek het verander. Ek is nie dieselfde ou nie. Maar ek het baie ondervinding opgedoen wat ek nou weer met die Bulle kan deel.”

En nou is hy weer lus om af te rig. En hy sien sy rol baie dieselfde as dié van Rassie Erasmus by die Bokke.

“Ek was nog altyd ’n “hands-on” afrigter. Die titel is in alle eerlikheid irrelevant vir my. Of jy my ’n direkteur van rugby of ’n afrigter wil noem, dit maak nie saak vir my nie. Die realiteit is dat ek op die veld gaan wees en alle aspekte van die vertoning van die span sal beheer. Ek sal die afrigters in posisies sit wat die spelers sal bevoordeel.

“Rassie was ’n direkteur, toe hoofafrigter en weer direkteur van rugby. Ek is seker hy sal steeds baie meer betrokke wees as ander direkteurs van rugby.

Maar ’n mens word ouer en wyser en ek is gelukkig om vir die volgende drie en ’n half jaar by die Bulle te wees. Dit sal my soos ’n handskoen pas.

“Dis basies dieselfde. Ek sal na die juniors en seniors kyk, seker maak daar is ’n kanaal boontoe vir spelers en afrigters. Ek wil tyd saam met die klubs en skole deurbring en seker maak daardie afrigters voel hulle het ’n pad vorentoe en kan dinge leer.”

White glo ook nie die reputasie dat hy van werk tot werk spring, is regverdig nie. Hy glo hy sal beslis tot 2023 by die Bulle aanbly.

“Dit is nie waar dat ek nie lank by ’n span bly nie. Ek het ’n driejaarkontrak in Frankryk gehad en ek het dit afgehandel. Ek het ’n driejaarkontrak in Japan gehad en ek het ná drie jaar geloop. Die enigste keer toe ek vroeg geloop het was by die Brumbies en Haaie, en daar was redes daarvoor.

“By die Brumbies was dit omdat daar ’n belofte was dat ek die Wallabies sou afrig, en toe dit nie realiseer nie, het ek dit moeilik gevind om in Australië te bly terwyl ek weet ek sou nooit die nasionale span afrig nie.

“By die Haaie was daar ander redes, en ek wil nie daaroor gesels nie. Maar ek het daaruit geleer. Dit is hoekom dit so belangrik was om met die Bulle te onderhandel, omdat ek nie in dieselfde strikke wil trap nie en my ook nie in ’n soortgelyke situasie wil bevind as by die Haaie nie.

“Het ek nog ’n begeerte om internasionale rugby af te rig?

“Ek dink ek sal altyd ’n begeerte hê. Dis soos ’n Olimpiese atleet – as jy daar deelgeneem het, sal jy altyd aan die Olimpiese Spele wil deelneem. Dit sal sleg wees om nooit weer daar te hardloop nie.

“Maar soos die tyd aanstap, besef ’n mens ook daardie geleenthede word al hoe minder.

“Toe ek 43 was en die Wêreldbeker gewen het, was dit frustrerend om nie weer internasionale rugby af te rig nie. Dit was die beste tyd van my internasionale loopbaan.

“Maar ’n mens word ouer en wyser en ek is gelukkig om vir die volgende drie en ’n half jaar by die Bulle te wees. Dit sal my soos ’n handskoen pas.”

Met vyf afrigters sedert 2015, is bestendigheid iets wat die Bulle duidelik nou nodig het.

En White floreer op sukses.

Meer oor:  Jake White  |  Victor Matfield  |  Afrigter  |  Blou Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.