Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Loftus se Meisiekind groet

Vir Wynand Olivier voel die afgelope 17 jaar soos ’n lang vakansie.

“Ek kan nie sê dat ek gewerk het nie, want rugby is iets wat ek ongelooflik geniet,” het die voormalige Springbok-senter die afgelope week aan Rapport gesê, waar hy op ’n plaas naby Worcester, Engeland, bly.

“Ek moet die Here bedank vir goeie gesondheid en dat ek nooit ernstige beserings opgedoen het nie.”

Wynand Olivier druk vir sy Engelse klubspan Worcester Warriors teen Ospreys. Foto: Getty Images

Die sukses wat hy as ’n Blou Bul en Springbok behaal het, het ook die plesier van rugby verdubbel vandat hy in 2003 ’n beroepspeler geword het.

Meisiekind, die bynaam wat Bakkies Botha, Gary Botha en Danie Rossouw hom destyds in sy speeldae by die Blou Bulle oor sy lang blonde hare gegee het, was deel van die Bok-groep wat die Wêreldbeker in 2007 gewen het.

Olivier was later ’n staatmaker in die Bulle se sogenaamde goue era toe hulle die Superreeks in 2007, 2009 en 2010 gewen het.

Hy was ook in die Blou Bulle se span wat die Curriebeker in 2009 omhoog gehou het. In dieselfde jaar was hy deel van die Bok-span wat die Drienasiesreeks gewen het én hy was in 2009 in die reeksoorwinning oor die Britse en Ierse Leeus betrokke.

Olivier het as speler alles bereik wat hy wou. Hy gaan nou aan die einde van die Engelse seisoen uittree. Hy speel van 2015 af vir die klubspan Worces­ter Warriors.

Dis was ’n heerlike reis, maar dis tyd om aan te beweeg na iets nuuts toe.

Hy sê hy tree oor verskeie redes uit. “Ek raak ouer. Ek word in Junie 36 jaar. Ek het ook verlede jaar my een dyspier van die been af geskeur. Om die eerlike waarheid te sê, het hy nog nooit 100 persent herstel nie.

“Al het ek vanjaar ’n paar wedstryde gespeel, sukkel ek steeds met die been. Dit is nie reg nie. ’n Ou se lyf sê ook vir jou jy het baie houe gevat. Genoeg is genoeg. Dis tyd om terug te staan.

“Ek het die afgelope jaar meer van ’n mentorrol gespeel, iets wat ek geniet het. Die tydsberekening is nou reg om uit te tree. Dis was ’n heerlike reis, maar dis tyd om aan te beweeg na iets nuuts toe.”

Olivier, sy vrou, Anri, en dogtertjie, Ava Grace, is gou ná sy speeldae op pad terug Suid-Afrika toe. Hulle behoort in Junie tuis te wees. Hy het ’n toekomsgeleentheid in Pretoria gekry wat hy nie kon weier nie. Aangesien gesprekke nog sensitief is, sal hy eers later meer daaroor sê.

Voor dan wil hy die graad BSc in sakebestuur aan die Universiteit van Hertfordshire verwerf om homself vir die lewe ná rugby te help voorberei.

Sy sukses op die rugbyveld sou volgens hom nie sonder die ondersteuning van sy ouers, Ockie en Minmie Olivier, moontlik gewees het nie.

“Ek was suksesvol oor die geleenthede wat my ouers my gebied het. Ek het ook ’n goeie ondersteuningsbasis gehad. My vrou het my onder meer ongelooflik ondersteun.

“Dié ondersteuning, en al my harde werk, het my gehelp om ’n suksesvolle loopbaan te hê.

Toe: ’n Welige blonde haredos toe hy vir die Bokke gespeel het.

“Een van my grootste drome as ’n jong seun van Welkom, eintlik Riebeeckstad in die Noord-Vrystaat, was om vir die Bokke te speel.

“ ’n Ou het altyd gehoop jy sou so ’n geleentheid kry. As ’n jong seun wou ek eendag na ’n groot stad gaan. Ek is baie bevoorreg met die geleenthede wat ek gekry het oor die afgelope sowat 17 jaar. Al my drome is bewaarheid.”

Olivier was bekend as ’n spanman. Hy beskou dit daarom as ’n yslike eer dat hy in die Bulle se sogenaamde goue jare gespeel het.

“Heyneke Meyer het in 2002 ’n Bulspan begin bou. ’n Klomp van die spelers het gebly en ’n hegte vriendskap gevorm. Vir die nuwe ouens was dit maklik om in te val. Ons het soveel tyd saam spandeer en ons was bereid om vir mekaar te werk.

“Ons was ook bereid om vir mekaar houe op die veld te vat. Wen of verloor, ons het altyd bymekaar gestaan. Ons almal het dieselfde doel nagestreef. Dit was wonderlike jare.”

Dieselfde redes geld volgens hom vir die sukses wat die Bokke in 2007 met die verowering van die Wêreldbeker behaal het.

“Jake White het ook ’n nuwe span vir 2004 gebou. Die meeste van die spelers het tot in 2007 vasgebyt. Dit was maklik om by die span in te skakel. In daardie Bok-spanomgewing het dit nie saak gemaak of jy vir die Bulle of die Stormers speel nie. Jy was doodeenvoudig ’n Bok.

“Die Bokke was ’n hegte eenheid. Nog iets wat daardie tyd tot die Bokke se sukses bygedra het, was dat die Super-spanne baie goed gedoen het. Ons kon op die sukses in die Superreeks voortbou.”

Wen of verloor, ons het altyd bymekaar gestaan.

Tot vandag toe is daardie Wêreldbekergroep nog in kontak met mekaar.

“Ons het ’n WhatsApp-groep waar ons gereeld gesels en dinge reël.”

Ná sy speeldae by die Bulle is Olivier in 2012 na die Japanse klubspan Ricoh Black Rams. Die Franse reus Montpellier was sy werkgewer van 2013 tot 2015 voordat hy na die Worcester Warriors is.

“Dit was maar ’n hartseersaak toe ek by die Bulle weg is. Ouens soos Jan Serfontein het deurgekom. Jesse Kriel-hulle het net daar aangekom. Ek was toe in ’n stadium in my loopbaan waar ek verandering moes gaan soek. Daar is egter nie nog ’n plek soos Loftus Versfeld nie.”

Hy het geen berou oor sy besluit om oorsee te gaan speel nie. Veral sy speeldae in Frankryk hou goue herinneringe in. Hy en sy vrou het daar onder meer geleer om Frans te praat.

“Die leefstyl in die suide van Frankryk is verskriklik lekker. Dis iets wat jy nie kan beskryf nie. Japan was iets heeltemal anders. Ons het in Tokio gebly waar hulle baie mooi na ons gekyk het. Engeland is veral vir my vrou lekker, aangesien perdesport hier groot is.”

En teleurstellings?

Nou: Bruin en netjies geknip by die Worcester Warriors in Engeland.

“Een van die grootste teleurstellings wat nou nog in my kop vassteek, was toe ek voor 2009 se Superrugby-halfeindstryd teen die Crusaders ’n hou teen my heup gekry het en ek nie kon speel nie. Dít nadat ek deur die seisoen nie een wedstryd misgeloop het nie. Ek het gedink dis die einde van my Super-seisoen en dat ek die eindstryd sal misloop.

“Ek onthou nog hoe ek ná die stamp teen my heup huis toe gery het en soos ’n babatjie van teleurstelling gehuil het. Dit was nie ’n baie goeie oomblik vir my nie. Gelukkig kon ek uiteindelik in die eindstryd speel toe ons die Chiefs gewen het.”

Verskeie afrigters het ’n blywende indruk op Olivier gemaak.

Hy was bevoorreg om van sy hoërskooldae by Affies onder gerekende afrigters soos Sakkie van der Walt en Carel Kriek te speel.

“Dit was die begin van groter drome. By Tuks het Fanie Nortjé en Dick Muir my grotendeels geleer om te speel wat ek sien. Hulle het my vryheid gegee om my talente uit te leef en my rugby te geniet. Op o.19-vlak by die Bulle het Ashley Evert en Nico Serfontein ons soos senior spelers behandel. Hulle het die fondament help lê vir groter dinge.

“Heyneke het die geloof en vertroue in my gehad om vir die Bulle te speel, terwyl daar ’n paar groot name was. Hy het my aangemoedig om voortdurend te leer.

“Frans Ludeke het ’n ander benadering gehad. Hy het ’n ongelooflike passie en goeie menseverhoudings gehad. Ek het ontsettend baie by hom van die veld af geleer.”

Oor sy teenstanders sê hy: “Die Wallaby-agterspeler Matt Giteau was een van die moeilikste teenstanders. Hy was rats en vinnig. Dit was altyd die klein outjies wat die moeiliker teenstanders was. Die groter ouens wat net reguit wou hardloop, was bietjie makliker.

“Die Fransman Yannick Jau­zion het my die hardste in my lewe geduik. Die kombinasie van Brian O’Driscoll en Gordon D’Arcy was nogal ’n moeilike een om teen te speel.”

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Oud-Springbok  |  Uittrede  |  Wynand Olivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.