Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Lood: Nóg slegte nuus vir Bok-breier
So sal Lood de Jager nie weer vanjaar vir die Sale Sharks gesien word nie. Dié Bok-slot het weer ’n ernstige skouerbesering opgedoen, wat hom die res van die jaar op die kantlyn sal hou. Foto: Getty Images

Terwyl daar in Suid-Afrikaanse rugby getob word oor die Springbokke se deelname aan vanjaar se Rugbykampioenskap, kry die nasionale afrigter, Jacques Nienaber, die een sarsie slegte nuus ná die ander.

Die jongste beseringsbulletin het die nuus gebring dat die Bok-slot Lood de Jager weens ’n langtermynbesering nie weer vanjaar sal rugby speel nie.

Hy het onlangs sy skouer beseer toe hy vir die Sale Sharks in die Engelse Premierliga gespeel het.

Dié klub se direkteur van rugby, Steve Diamond, was nog verlede week vol hoop dat De Jager nie weer geopereer hoef te word nie.

De Jager het egter Dinsdag uit Manchester laat weet die sogenaamde Latarjet-prosedure, ’n rekonstruksie van die skouer, is weer sy voorland.

Die Springbok Lood de Jager word verlede jaar in Japan in die Wêreldbeker-eindstryd van die veld gehelp nadat hy sy skouer sleg ontwrig het. Hy het vroeër vandeesmaand dieselfde skouer beseer. Foto: Getty Images

Dit is die linkerskouer wat lol, dieselfde een wat hy verlede jaar in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland erg ontwrig het.

Die Sharks sal De Jager op die vroegste teen Februarie 2021 weer kan oorweeg.

“Die nuus oor Lood is nie goed nie. Hy moet geopereer word en dit sal hierdie keer waarskynlik ’n langer hersteltyd wees (as met die vorige operasie).

“Die skouer moet herbou word en dit sal tot vyf, ses maande duur,” het Diamond aan planetrugby.com gesê.

Dr. Herman Rossouw, spandokter van die Bulle, sê die rehabilitasietyd ná die Latarjet-prosedure is ongeveer vier maande, maar “dit tel teen Lood” dat dit weer dieselfde skouer is.

De Jager het verlede seisoen – toe hy die Bulle in die Superreeks aangevoer het – ook sy regterskouer beseer.

Dit is sy derde groot skoueroperasie die afgelope 18 maande.

Dié nuus kom skaars ’n dag nadat die Franse klub Montpellier bevestig het sy Springbok-losskakel Handré Pollard het Vrydag ’n kruisligament in sy knie geskeur en sal tot minstens ses maande uit aksie wees.

Buiten dié twee oud-Bulle, sal ook die slot RG Snyman nie later in die Rugbykampioenskap kan speel nie.

Snyman se seisoen het verlede maand tot ’n einde gekom toe hy ook knieligamente geskeur het in sy Munster-debuut in Ierland.

Dit is boonop nog onseker wanneer Eben Etzebeth (rib), wat vir Toulon in Frankryk speel, en Pieter-Steph du Toit (kniespier) weer wedstrydfiks sal wees.

Dit beteken net vier spelers uit die Springbokke se 23-tal in die Wêreldbeker-eindstryd – Damian de Allende, Cheslin Kolbe, Faf de Klerk en Vincent Koch – is in hierdie stadium wedstrydfiks.

Dit beteken net vier spelers uit die Springbokke se 23-tal in die Wêreldbeker-eindstryd – Damian de Allende, Cheslin Kolbe, Faf de Klerk en Vincent Koch – is in hierdie stadium wedstrydfiks.

Dit is ’n verdoemende voorbode vir Nienaber, net meer as sewe weke voor die beplande Rugbykampioenskap in Australië afskop.

Die benarde situasie is in groot kontras met die All Blacks, wat reeds die Aotearoa-reeks en ’n Noord/Suid-wedstryd agter die blad het en volgende maand boonop twee Bledisloebeker-toetse teen die Wallabies gaan speel.

Die eindstryd van die Aussies se Superrugby AU-kompetisie word Saterdag in Canberra tussen die Brumbies en die Reds beslis.

Meer oor:  Lood De Jager  |  Eben Etzebeth  |  Handre Pollard  |  Rg Snyman  |  Suid-Afrika  |  Beserings  |  Rugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.