Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Loop lig vir Japan, waarsku Wimpie

Wimpie van der Walt wil nie spoke vir ondersteuners van die Springbokke opjaag nie, maar hy waarsku dat Japan al sedert Februarie as ’n span saam oefen om hulle slaggereed te kry vir die Wêreldbekertoernooi in hul eie agterplaas. “Dis Japan se mikpunt om in die uitspeelrondes te kom”.

Japan versinnebeeld SA rugby se spreekwoordelike Ground Zero. Die laagtepunt in Bok-rugby se toetsgeskiedenis. Wie het immers ooit gedink Japan sou in 2015 se Wêreldbeker die Bokke kon klop?

Wimpie van der Walt in aksie vir Japan teen die All Blacks in November verlede jaar. Foto: Getty Images

Die 30-jarige Van der Walt, wat in 2017 sy buiging vir Japan in toetsrugby gemaak het nadat hy lank as slot en flank sy merk by die WP, Bulle, Southern Kings en Sunwolves gemaak het, vertel dat Japan al van begin vanjaar af op sy voorbereiding vir die toernooi fokus.

“Hulle het ons gerus vir vanjaar se Superrugby, wat ons help om vars vir die Wêreldbekertoernooi te wees,” het Van der Walt vroeër aan Rapport gesê.

“Ons poog om vanjaar die uitkloprondes van die Wêreldbeker te haal. Ons het ’n sterk groep spelers met baie goeie afrigters.”

Voor die Wêreldbeker sal Japan en die Springbokke Vrydag in Kumagaya teen mekaar speel. Dit lok groot belangstelling nadat Japan die Bokke 34-32 in 2015 se Wêreldbeker-wedstryd in Brighton geklop het.

Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, sal dus nie kanse waag nie en beplan om sy sterkste span teen Japan te kies. Voor 2015 se geskiedkundige nederlaag teen Japan, het die Bokke sowat vyf weke laas enige rugby gespeel. Verskeie beseerdes het ook hul terugkeer tot die speelveld in Brighton gemaak.

Erasmus ken nou die slaggate en wil dit vermy.

“Ek sien daarna uit om teen die Springbokke te speel. Dis altyd lekker om teen die beste spanne te speel,” het Van der Walt gesê.

Ons het gestoei en geboks in ons voorbereiding.

Hy is een van drie Suid-Afrikaners wat aanvanklik in die Brave Blossoms se voorlopige groep van 42 spelers vir die Wêreldbeker ingesluit is. Hy en Lappies Labuschagné is die week ook vir die finale groep van 31 spelers gekies, nadat Labuschagné sy aangenome land ook al ’n slag teen Fidji aangevoer het.

Die derde Suid-Afrikaner, Grant Hattingh, moes hom egter weens ’n liesbesering onttrek.

“Ons het ’n bietjie gestoei en geboks in ons voorbereiding. Ek dink dis beslis die sterkste en fiksste wat ek nog was. Ons kondisioneringsafrigter, Simon Jones, is baie goed,” het Van der Walt gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.