Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Los Bokke uit belegger se hande'

Die Springbokke is volksbesit en daar kan nie toegelaat word dat ’n aandeel van die nasionale span in die hande van ’n belegger soos CVC Capital Partners beland nie.

Dít is die mening van Schalk Burger senior, ’n voormalige Bok-slot.

Schalk Burger senior voel sterk daaroor dat ’n belegger nie sy hande op die Springbok-handelsnaam moet kry nie. Foto: Leanne Stander, Foto24

Reeds sedert verlede jaar word wyd bespiegel dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) met CVC oor ’n private aandeelhouding in gesprek is.

CVC is ’n wêreldwye beleggingsreus en batebestuurder, wat sowat $118 miljard se bates onder sy bestuur het en $162 miljard in maatskappye belê het.

Die Springbok-handelsnaam is ’n soewereine en unieke een en behoort deur die mense besit te word.

Maar Burger waarsku teen dié planne. Hy is meer ontvanklik vir ’n belegging in ’n kompetisie, wat die onus dan op die belegger sal plaas om dit effektief te kommersialiseer.

“Die Springbok-handelsnaam is ’n soewereine en unieke een en behoort deur die mense besit te word,” het Burger aan Netwerk24 gesê.

“Jy behoort jou geld te maak binne die kompetisies waarin jy speel. As verkeerde besluite geneem is ten opsigte van watter kompetisies gespeel word en jy maak nie geld nie, kan jy mos nie ’n nasionale handelsnaam gaan verdiskonteer nie.”

Hoewel die gerugte volop is dat Saru ’n plan vir ’n private aandeelhouer ondersoek en met CVC in gesprek getree het, is geen aankondiging egter nog in dié verband gedoen nie.

Daar is selfs al bespiegel dat die Springbokke en Blitsbokke gehuisves sal word in ’n maatskappy waarin CVC ’n belang gaan koop. Saru wou nie hierop kommentaar lewer nie.

Burger se waarskuwing kom te midde van bemiddeling wat tans plaasvind tusen die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NSRU) en senior All Blacks, wat nie te vinde vir ’n belegging deur die Amerikaanse maatskappy Silver Lake is nie.

Sam Cane, All Black-kaptein, en ander top-spelers soos Aaron Smith en Sam Whitelock, tel onder diegene wat bekommerd is oor ’n moontlike “verlies aan beheer” en dat die aandeelhouer uit voeling met hul “kultuur” kan wees.

Die NSRU sien egter die verkoop van ’n belang van 15% in hul maatskappy as ’n geleentheid om hul onderneming te herkapitaliseer.

“As daar sprake is van ’n aandeel in ’n maatskappy waar die kompetisies gehuisves is, kan jy nog daarna kyk, maar jy kan dit nie met die Springbokke per se doen nie,” sê Burger.

Verkoop eerder ’n aandeel in, kom ons sê die Curriebeker-reeks. Maar die Curriebeker is tot niks verklaar nie. Dit behoort ’n massiewe kompetisie te wees waaruit jy baie geld kan maak.

CVC het reeds minderheidsaandeelhoudings in die beheerliggame van die Pro14-reeks en die Engelse Premierliga bekom. Vroeër vandeesmaand is ook berig dat hy teen ’n prys van £365 miljoen 14,3% van die kommersiële regte in die Sesnasiesreeks bekom het.

Burger meen dat CVC die spel die beste deur regstreekse belegging in kompetisies kan dien.

“Hy moet dan sy opbrengs uit die kompetisie kry. Hy moet dit kommersialiseer, borge inbring en dit ’n kommersiële been gee,” sê hy.

“Verkoop eerder ’n aandeel in, kom ons sê die Curriebeker-reeks. Maar die Curriebeker is tot niks verklaar nie. Dit behoort ’n massiewe kompetisie te wees waaruit jy baie geld kan maak.”

Maar wat die Bokke betref, is dit aikôna, beklemtoon Burger.

“Hoe groter die aandeelhouding is wat Saru verkoop, hoe minder gaan julle per jaar kry,” sê hy.

“Jy kan ewe skielik met ’n aandeelhouer sit wat jou handelsnaam besit en hy besluit hoe en waar jy speel, wie jy is, en wat jou look, feel en make-up is. Jy kan mos nie toelaat dat iemand dit vir kommersiële gewin bymekaarsit nie. Dis absoluut absurd.”

Meer oor:  Schalk Burger  |  Bokke  |  Springbokke  |  Cvc Capital Partners  |  Silver Lake  |  Beleggers  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.