Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Louw (20) reeds ’n oplossing vir elke probleem
Elrigh Louw vroeg in Februarie vir die Kings in aksie teen die Cheetahs in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Hy was ’n stut, toe ’n slot, toe – heel onverwags – ’n vleuel. En nou is Elrigh Louw ’n agtsteman.

En nie sommer net nog ’n agtsteman nie – die Kings se afrigter Robbi Kempson dink Louw kan in dié posisie vir die Springbokke speel.

Louw is net 20 jaar oud, maar hy speel heerlik vreesloos saam met die ouer manne in die Pro14-reeks.

Of liewer, hy hét heerlik vreesloos rugby gespeel voor die Covid-19-pandemie die seisoen so dramaties onderbreek het.

“Ek bevind my tans op my ouers se hoewe naby Vereeniging. Ek dink ek sal darem kan draf en fiks bly hier met die inperking wat Donderdag van krag word,” sê Louw.

Dis nog nie duidelik of die Pro14-reeks hierdie seisoen voortgesit gaan word nie. Louw is egter vuur en vlam om weer vir die Kings te speel, veral omdat hy nou agtsteman speel en omdat Kempson soveel vertroue in hom het.

Louw het regdeur sy laerskoolloopbaan en tot in graad 11 vaskopstut gespeel en sê hy weet “baie goed” wat in die vaste skrums aangaan.

Dalk is dit waarom hy en Kempson, ’n voormalige Springbok-stut, so goed oor die weg kom.

“In graad 11 (by die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark) is ek slot toe geskuif en dinge het so goed gegaan dat ek die volgende jaar die Valke se Cravenweekspan gehaal het,” sê Louw.

Louw het toe ’n draai in Bloemfontein gaan maak waar hy vir die Shimlas en die Vrystaat se o.19- en o.21-spanne uitgedraf het.

In 2019 is hy vir die Jong Bokkies gekies wat aan die o. 20 Wêreldbekertoernooi in Argentinië deelgeneem het.

Louw aan die storm in verlede jaar se o.19 Wêreldbeker-halfeindstryd tussen die Jong Bokkies en Frankryk in Rosario, Argentinië. Foto: Getty Images

“Dit was ’n ongelooflike ervaring en ek het dit veral baie geniet om teen Nieu-Seeland te speel,” sê Louw.

Die Jong Bokkies het Nieu-Seeland met 25-17 geklop, maar is in die halfeindronde deur Frankryk – die uiteindelike WB-wenner – uitgeskakel.

Louw het ’n aanbod van die Vrystaat gekry om in Bloemfontein te bly, maar het besluit om eerder Port Elizabeth toe te gaan.

“Ek het gedink ek sou meer speelkans kry en as ek sover terugkyk op die seisoen, kan ek nie kla dat daar te min daarvan was nie,” sê hy.

Louw is in Port Elizabeth aanvanklik op slot en flank gebruik. Daar was selfs ’n keer wat hy gedurende ’n wedstryd op vleuel moes gaan uithelp toe die beserings die Oos-Kapenaars se span lelik uitgedun het.

“Ja, die vleuel-storie was nogal ’n groot aanpassing,” merk Louw droog op.

Op agtsteman “leer” hy steeds en is hy dankbaar vir die raad wat medespelers soos Ruaan Lerm hom gee.

Dis weliswaar nog ’n bietjie vroeg om nou al van Springbokkleure te praat, maar die Groen-en-goud wat Louw as Jong Bokkie oor sy kop getrek het, het hom beslis lus gemaak vir meer groot rugby.

Vir eers is hy tevrede om vir die Kings te speel.

Die koronavirus moet net eers weer wyk.

Meer oor:  Pro14  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.