Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Francois Louw groet ook ná WB-glorie

Die Springbok-losvoorspeler Francois Louw het Sondag amptelik sy uittrede uit toetsrugby aangekondig, skaars ’n week nadat hy Suid-Afrika gehelp het om die Wêreldbeker teen Engeland te verower.

Francois Louw het verlede naweek ’n laaste keer die Boktrui oor die kop getrek in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland.Foto: Gallo Images

Die 34-jarige Louw, wat voorheen vir die Stormers gespeel het en die afgelope paar seisoene vir Bath in Engeland uitdraf, het in 2010 sy eerste van 76 toetse vir die Bokke gespeel.

Louw het sy land by drie WB-toernooie verteenwoordig, wat onder meer ook ’n bronsmedalje by die 2015-toernooi ingesluit het.

“Ek kon nie vir ’n meer geseënde loopbaan saam met die Springbokke gevra het nie. Ek groet met ’n vol en dankbare hart,” het Louw in ’n verklaring van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gesê.

Louw sal vir altyd onthou word vir sy uitsonderlike vermoë om omkeerbesit by die afbreekpunte te bewerkstellig. Dié pyl in sy koker het die Springbokke dikwels uit benarde situasies gered.

Louw is die laaste jaar of wat met groot sukses as ’n impakspeler deur Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, aangewend en was ’n belangrike lid van die sogenaamde “Bomb Squad” in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi.

In die onlangse Wêreldbeker-halfeindstryd teen Wallis in Jokohama, was dit Louw wat ’n deurslaggewende strafskop by die afbreekpunt vir die Springbokke afgedwing het.

Die spanne het toe gelyk getrek met 16-16 en Wallis was sterk op die aanval, toe Louw sy hande op die bal gekry het. Die skeidsregter, Jérôme Garcès, het die Walliese kaptein en slot, Alun Wyn Jones gestraf en die Bokke kon die bal diep tot in Wallis se halfgebied sool.

Van daar het die Bokke nog ’n strafskop afgedwing, wat Handré Pollard in staat gestel het om die wen-strafdoel aan te teken.

Louw het ook verlede jaar in Parys tot die Bokke se redding gekom. Frankryk was voor met enkele minute se speeltyd oor en het tot in die Bokke se kwartgebied gevorder. Louw het egter by ’n afbreekpunt ’n strafskop afgedwing. Die Bokke het van die volgende lynstaan af nog ’n strafskop afgedwing en ná nog ’n paar fases spel, het die haker Bongi Mbonambi oorgeduik vir die wendrie.

“Flo was ’n regte kryger in die lostrio,” het Erasmus oor Louw gesê.“Hy was altyd bereid om daar te wees waar die vuur die warmste was en was die tipe tawwe tienie wat jy altyd in jou span wou hê. Hy het vir niks of niemand teruggedeins nie.

“Hy was ’n ongelooflike dienaar van Suid-Afrikaanse rugby en ons verloor baie met sy uittrede – nie net wat sy spel betref nie, maar ook kalmte, karakter en insig wat hy na die Bok-groep gebring het,” het Erasmus gesê.

Louw het altesaam 10 toetsdrieë gedruk, waarvan die laaste in vanjaar se WB-toernooi teen Namibië was.

Die veteraan-stut Beast Mtawarira het die afgelope week ook aangekondig hy hang sy stewels op. 

Meer oor:  Wereldbekerrugby  |  Springbokke  |  Francois Louw  |  Uittrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.