Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Luiperds wil nie weg speel oor geldknyp

Die Curriebeker se Eerste Liga word op die vooraand van dié reeks deur ’n krisis in die gesig gestaar met die Luiperds Rugbyunie wat aangedui het dat hy sommige van sy wegwedstryde nie sal kan eerbiedig nie.

Dié drastiese stap is die gevolg van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se besluit om kleiner unies se begrotings met 52% te besnoei.

Die Luiperds gaan moontlik hul wegwedstryde weens finansiële oorwegings teen Namibië en die Oos-Kaapse spanne moet prysgee. Foto: Gallo Images

Die Luiperds het ook reeds weens finansiële oorwegings hul stadion, Olënpark in Potchefstroom, verlaat en speel nou hul tuiswedstryde op die Noordwes-Universiteit se Fanie du Toit-sportgronde.

Die Eerste Liga skop op 25 Augustus af en loop op 13 Oktober ten einde.

Die Luiperds, soos alle ander kleiner unies in die land, is onder geweldige finansiële druk ná die inkorting van hul begroting en sake is só benard dat hulle hul wegwedstryde teen Namibië en dié teen die Grens en Oostelike Provinsie wil prysgee om geld te bespaar.

Indien dít wel gebeur, kan dit die integriteit van die kompetisie aantas.

Die Luiperds het voorts in ’n verklaring gesê hul o.19- en o.21-spanne sal ook nie hul wegwedstryd-verpligtinge in die Oos-Kaap of Wes-Kaap kan nakom nie.

“Alhoewel die Luiperds deurentyd al die moontlike doen in ’n poging om dié bepalings steeds na te kom, is ons posisie tans van so aard dat dit nie moontlik sal wees nie,” het die unie in ’n verklaring gesê.

Al ons spanne reis per bus na hul wegwedstryde en keer direk ná afloop van die wedstryd terug na Potchefstroom.

n Woordvoerder van Saru het Woensdag by navraag gesê dat hulle met die Luiperds oor die aangeleentheid in verbinding sal tree, maar dat dié unie hulle nog nie van sy voorneme om wegwedstryde prys te gee in kennis gestel het nie.

Die Luiperds het ook verdere omvattende kostebesparingsmaatreëls aangekondig, waaronder die inkorting van reisbegrotings, salaris-besnoeiings en die vrystelling van die provinsie se voorste en mees senior spelers.

“Al ons spanne reis per bus na hul wegwedstryde en keer direk ná afloop van die wedstryd terug na Potchefstroom. Spanne deel sover as moontlik die bus. Die absolute minimum word aan reiskostes vir beamptes en ander persone bestee,” lui die verklaring.

Die Luiperds het ook hul drie mees senior spelers, die slot Walt Steenkamp, die losvoorspeler Boela Venter en die senter Henko Marais vrygestel ná hulle aanbiedinge van ander unies ontvang het.

“Aanvullend hiertoe is daar deurlopende besnoeiing in alle uitgawes, wat skeidingspakkette aan werknemers insluit. Drie werknemers het al die pakette aanvaar.”

André May, die Luiperds se president, het by navraag bevestig die besnoeiings hou direk verband met Saru wat klein unies se begrotings gesny het.

Daar word verneem dat die ander unies in die Eerste Liga wel al hul wegwedstryde sal eerbiedig, maar hulle gaan ook gebuk onder ’n erge geldtekort.

Die Griffons het ook onlangs aangekondig dat hulle in ’n poging om geld te bespaar, beplan om hul spelers vir slegs agt maande van die jaar te kontrakteer.

Meer oor:  Geldknyp  |  Luiperds  |  Eerste Liga  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.