Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Omstrede Luke Watson hang sy tokse op
Luke Watson het as 18-jarige sy eersterangse debuut vir die OP gemaak. Foto: Gallo Images
Ná ’n paar seisoene by die Haaie is Luke Watson in 2005 na die Westelike Provinsie waar hy ook die kaptein was. Foto: Gallo Images
Luke Watson het in vyf seisoene by die Stormers 62 keer vir dié Kaapse Superrugbyspan uitgedraf, maar was nooit ’n geliefde figuur onder sy eweknieë nie. Hier word hy deur Ryan Kankowski in ’n kopklem beetgekry in ’n stryd teen die Haaie. Foto: Gallo Images
Luke Watson het sy veelbesproke Springbokdebuut in 2007 teen Samoa gemaak. Foto: Gallo Images
Luke Watson het vanweë sy politieke oortuigings en uitgesprokenheid ’n gespanne verhouding met die destydse Bokafrigter, Jake White (links agter), gehad. Foto: Gallo Images
Luke Watson was in 2008 lid van die Bokspan wat ’n reekssege oor Walis in Suid-Afrika behaal het. Sy kortstondige toetsloopbaan het later daardie jaar, ná tien verskynings vir die Springbokke, geëindig. Foto: Gallo Images
Luke Watson het einde 2009 na Engeland verhuis waar hy ’n paar seisoene lank vir die premierligaspan Bath uitgedraf het. Foto: Gallo Images
Luke Watson laat sy donderweerstem oor die veld klap in ’n wedstryd wat hy vir die OP-Kings gespeel het. Foto: Gallo Images

Die loopbaan van Luke Watson (32), een van die mees omstrede rugbyspelers wat tot nog toe vir die Springbokke gespeel het, het tot ’n stotterende einde gekom.

’n Woordvoerder van die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) het bevestig dat Watson reeds “ ’n tydjie gelede” ’n brief by die unie se kantoor ingehandig het waarin hy sy uittrede aankondig.

“Dit is vandag ’n openbare vakansiedag en ek is saam met my gesin en nie bereid om enige kommentaar te lewer nie,” sê Watson.

Watson se liefde-haat-verhouding met die media was ook een van die kenmerke van sy loopbaan.

Die welsprekende en intelligente Watson het, wanneer hy daarvoor lus was, uitstekende antwoorde op joernaliste se vrae gelewer.

Wanneer hy nie in die regte bui was nie, kon hy ewe bitsig op joernaliste wat hom te na gekom het, terugkap.

Watson het ’n indrukwekkende CV. Op internasionale vlak het hy vir die SA Skolespan, SA o.19-span, SA o.21-span, Blitsbokke en die Springbokke gespeel.

Hy was ook ’n uitblinker vir die Oostelike Provinsie, Haaie, Stormers, Bath en Southern Kings.

Ongelukkig vir hom sal hy grotendeels onthou word vir die omstrede wyse waarop hy in 2007 ’n Springbok geword het en vir sy uitlating in 2008 by ’n geleentheid waar hy gesê het hy wou op sy Springboktrui opgooi.

Min mense sou stry dat Watson in 2006 een van die beste losvoorspelers in die wêreld was, maar Jake White, wat toe die Springbokafrigter was, wou hom nie kies nie.

Dit het daartoe gelei dat Watson die jaar daarna weens politieke druk (Cheeky Watson, sy pa, was ’n bekende anti-apartheidsaktivis) wel sy debuut vir die Bokke gemaak het.

Hy is glo nie juis welkom laat voel in die Bokopset nie en dit het deels daartoe gelei dat hy later omstrede dinge oor die Boktrui kwytgeraak het.

Watson het later in onderhoude tydens sy speeldae by Bath in Engeland toegegee dat hy “dinge dalk anders sou hanteer het” as hy weer die kans gehad het.

Die afrigter Alan Solomons het hom in 2011 teruggelok om in 2013 vir die Southern Kings in hul eerste jaar in Superrugby te speel.

Watson het gereeld uitstekende vertonings vir die span, asook vir die OP-Kings gelewer, maar sy speeldae is algaande deur beserings ontwrig.

Een van die groot twispunte onder ondersteuners was die afgelope paar jaar dat hy glo “so min speel, maar soveel betaal word”.

Toe die geldbom in 2015 by die OP bars, was Watson tussen twee vure. Aan die een kant was daar sy spanmaats en aan die ander kant sy pa, Cheeky, president van die OPRU.

Hy was nie een van die spelers wat die OPRU hof toe geneem het vir hul agterstallige salaris nie.

Watson en sy vrou, Elaine, is bekend om die welsynswerk wat hulle in Port Elizabeth onder die vaandel van Love Story doen.

Meer oor:  Op-Kings  |  Op  |  Uittrede  |  Luke Watson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.