Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ma haas Willie hospitaal toe ná ondraaglike pyn

Die Wêreldbeker-wenner Willie le Roux moes die week ’n onverwagse blindederm-operasie in Somerset-Wes se Mediclinic ondergaan nadat hy ’n erge maagpyn gehad het.

Willie le Roux in die Mediclinic Somerset-Wes.

Le Roux het Dinsdagaand, toe hy die eerste tekens van sy maagpyn ervaar, gedink dis dalk in reaksie op die pasta wat hy vroeër geëet het.

Die 30-jarige Le Roux het nie dadelik die erns van sy toestand besef nie en het die Woensdagoggend nog 10 km gaan hardloop in die hoop dat die pyn sou verdwyn. Min het hy geweet dat hy die gevaar loop dat sy blindederm kan bars.

“My agent, Reghard van Dyk, het my Woensdag na ’n shoot vir ’n advertensie gevat,” het Le Roux aan Rapport gesê.

“Ek het vir hom gesê die pyn vererger. Ek het selfs dinge soos ’n Bovril-broodjie met tee probeer in die hoop dat die pyn sal verbeter.”

Le Roux is uiteindelik later die Woensdag na ’n dokter wat hom ’n inspuiting en Gaviscon gegee het.

“Die pyn wou steeds nie beter word nie. Ons het toe nog Woensdagaand by my ouers gebraai.

“Ek het so sleg gevoel dat ek met ’n warmwatersak op die bank gaan lê het terwyl hulle braai. My ma, Hanlie, wou my die aand na die noodgevalle neem, maar ek het vasgebyt en gehoop dit verbeter.”

Willie le Roux tydens verlede jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan. Foto: Getty

Donderdagoggend het die pyn vir Le Roux ondraaglik geraak. Sy ma het hom uiteindelik om 05:00 na die hospitaal geneem.

“Ek is dadelik opgeneem en het onder meer morfien vir die pyn gekry. Ek kon eers laatmiddag geopereer word toe daar plek in die teater was.

“Die dokter het gesê my blindederm, wat hy toe verwyder het, was vol bakterieë.

“Omdat hy bang was dat ek ontsteking kon opdoen, wou hy my minstens tot Saterdag (gister) of Sondag (vandag) in die hospitaal hou.

“Ek was werklik geskok. Dis ’n pyn wat ek nog nooit beleef het nie. Die dokter het my eers agterna gesê as ek nog ’n dag langer gewag het, het my blindederm gebars. Ek het werklik geskrik en kan nie die pyn beskryf wat ek ervaar het nie.”

Le Roux sal, as hy volkome herstel het en die Covid-19-inperkings iets van die verlede is, in September na Japan terugkeer om vir Steve Hansen se Toyota Verblitz-klubspan te speel.

Meer oor:  Blindedermoperasie  |  Willie Le Roux  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.