Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Volpunte vir span sonder Covid’

Daar moet anders gedink word oor die toekenning van ligapunte wanneer wedstryde weens Covid-19-gevalle afgelas moet word, meen John Dobson.

John Dobson (links), afrigter van die WP, en sy kaptein, Siya Kolisi, gesels Donderdag op Zoom met die media. Foto: Gallo Images

Dobson, afrigter van die Westelike Provinsie in die Curriebeker-rugbyreeks, sê hy sal verkies dat ’n oorwinning toegeken word aan die span wat in ’n posisie is om sy verpligtinge na te kom.

In die Superrugby Unlocked-toernooi is drie wedstryde weens Covid-19-gevalle onder spelers en bestuurslede afgelas. Ingevolge kompetisiereëls is dié wedstryde as gelykopstryde geag, met twee ligapunte wat aan elk van die spanne toegeken is. Dit het ’n skadu gewerp oor die geloofwaardigheid van die punteleer. Daardie punte word boonop ook na die CB-reeks, wat vandeesweek begin, oorgedra.

Dobson sê nie dit het meegebring dat die verkeerde span (die Bulle) as die Unlocked-kampioen gekroon is nie, maar voeg by dat van die spanne verontreg kan voel.

“Die Bulle het heeltemal verdien om die reeks te wen. Hulle het hul twee naaste teenstanders – ons en die Haaie – albei ’n klap op Loftus gegee,” sê Dobson.

“Ons was egter baie teleurgesteld om nie verlede week teen die Haaie te kon speel nie. Ons was besig om in die regte rigting te beweeg en wou met ons momentum volhard.

Ek sal wil sien dat daar ’n hersiening is van hoe die punte toegeken word, maar dis net my persoonlike mening.
John Dobson

“Dit was ’n groot ontwrigting om nie te speel nie en jy verloor die geleentheid om meer ligapunte te kan aanteken.”

Die Haaie kon weens positiewe Covid-19-toetsuitslae onder hul vaskopstutte nie hul verpligtinge in daardie wedstryd nakom nie. Ander wedstryde wat afgelas is, was die Leeus se kragmetings met die Cheetahs en Pumas, albei op Ellispark. Die positiewe koronavirus-gevalle daardie weke was onderskeidelik by die Leeus en Pumas.

Dobson meen dis belangrik dat die “skuld” nie op spanne gelaai word nie, want hulle het nie ten volle beheer oor die situasie nie.

Maar, sê hy, dit sal gewis goeie gedrag in terme van die nakoming van protokolle tot gevolg hê as spelers weet dat hul aksies daartoe kan lei dat hul span nie ’n enkele ligapunt kry nie en die teenstander vyf.

Ali Vermaak gaan nadat hy maande lank buite aksie was, na die WP terugkeer. Hy is vir die Streeptruie se plaasvervangersbank vir die wedstryd teen die Blou Bulle op Nuweland gekies. Foto: Gallo Images

Dobson sal ten gunste wees van die reël wat geld in die huidige Nasiesbeker-toernooi in Europa, waar ’n bonuspunt-oorwinning van 28-0 toegeken word aan die span wat kan speel.

“Ek sal wil sien dat daar ’n hersiening is van hoe die punte toegeken word, maar dis net my persoonlike mening,” sê hy.

“Dit lyk of ons nou in die Wes- en die Oos-Kaap deur ’n moeilike tyd sal gaan. As jy vir die Stormers speel en oorweeg om in die Waterfront se winkelsentrum te gaan rondstap, maar weet dat jy kan veroorsaak dat jou span vyf punte verloor, sal jy dit waarskynlik nie doen nie.

“Ons beleef ’n groot krisis en dit is belangrik dat almal hulle gedra. As dit (die hersiening van die toekenning van punte) beter gedrag aanmoedig, is daar dalk ’n saak voor uit te maak.”

• Intussen is Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, en die Blitsbok Seabelo Senatla vir die WP se beginspan vir Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle op Nuweland gekies.

Seabelo Senatla sal as die Westelike Provinsie se regtervleuel in Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle op Nuweland speel. Foto: Gallo Images

Albei was weke lank op die krukkelys. Kolisi vervang Marcel Theunissen as die nr. 6-flank en Senatla sal in Ruhan Nel se plek op regtervleuel speel.

Ali Vermaak, wat etlike maande buite aksie was, sal as loskopstut op die plaasvervangersbank terugkeer.

Dobson het nie oorweeg om Kolisi en Senatla eers as plaasvervangers weer ’n speelkans te gee sodat hulle geleidelik hul wedstrydfiksheid kan herwin nie.

“In Sergeal Petersen se afwesigheid is Seabelo ons voorste vleuel, en soos Warrick Gelant (die WP-heelagter) is hy een van die mees professionele ouens wat ons het. Ruhan is eintlik ons voorste senter en gaan vorentoe daar speelkans kry,” sê Dobson.

“Siya is die kaptein en het al in baie groter wedstryde as hierdie gespeel. Dit gaan ’n fisieke wedstryd wees. Siya is ’n harde werker en een van die mees fisieke nr. 6-flanke in die land. Ons gaan ons man fisiek teen ’n groot Bulle-pak moet kan staan.”

Dobson is ook bly dat Vermaak terugkeer.

“Ali is een van die mees onderskatte spelers in Suid-Afrika,” sê hy.

“Hy word nooit in die skrums geklop nie en is ongelooflik fisiek. Hierdie is ’n groot wedstryd en ons het die sterkste span moontlik daarvoor gekies.”

Stormers: Warrick Gelant, Seabelo Senatla, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Angelo Davids, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), JD Schickerling, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS (uit): Scarra Ntubeni, Ali Vermaak, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, David Meihuizen, Chris van Zyl, Jaco Coetzee, Marcel Theunissen, Godlen Masimla, Tim Swiel, Ruhan Nel.

Meer oor:  Kaapstad  |  Nuweland  |  Curriebeker-Reeks  |  Westelike Provinsie  |  Blou Bulle  |  John Dobson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.