Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maak reg vir 9-punt drieë in Varsitybeker
Varsitybeker-rugbyreeks: Tot 12 punte kan verdien word vir ’n verdoelde drie.

Kaapstad. – Tradisionaliste gaan in hul tee stik met die jongste inisiatief in die Varsitybeker-rugbyreeks: Tot 12 punte word verdien vir ’n verdoelde drie!

Dít sal egter afhang van waar ’n span die drie druk, volgens die amptelike webwerf van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se skeidsregters, sareferees.com.

’n Drie is vyf punte werd, maar ’n span sal vier bonuspunte bykry as die oorsprong van die beweging in sy eie helfte geloods is. Maar dan móét hy van begin af tot aan die einde in besit wees het.

’n Doelskop in die Varsitybeker-reeks is drie punte werd en straf- en skepdoele twee. As ’n span wat druk, se beweging van tussen die middellyn en sy teenstander se kwartgebied begin, , sal hy twee bonuspunte verdien.

In enige ander situasie is die drie vyf punte werd.

As ’n span gedurende die beweging skop en die bal herwin, sal hy ingevolge die toepassing van dié reël steeds in besit wees. Dít laat die deur oop vir steek- en dwarsskoppe om met vrug gebruik te word.

Sodra ’n lynstaan of skrum toegeken word, is dít die plek van oorsprong.

In die geval van onderskepdrieë word die beginsel van die plek van oorsprong óók toegepas, wat dit uiters lonend sal maak.

’n Mens kan seker aanneem dat dié innovasie – glo deur die voormalige Springbok-kaptein Francois Pienaar – daarop gemik is om hardlooprugby te beloon.

Kevin Musikanth, oud-afrigter van die Ikeys, meen dit skep óók geleenthede vir konserwatiewe spanne.

“Die 12 punte wat aangeteken kan word, is ’n geelwortel om vanuit jou eie halfgebied te hardloop, maar dit skep ruimte vir ’n versigtige span om die flambojante een se foute uit te buit. Afrigters gaan meer as ooit vantevore taktiese vernuf aan die dag moet lê,” het Musikanth gesê. “Dis belangrik dat toeskouers opgevoed en voorberei word op tellings van 78-50! Kom ons wag en kyk wat gebeur.”

In ander verwikkelinge word daar vanjaar na een skeidsregter teruggekeer nadat twee die afgelope paar seisoene gebruik is.

Daar is óók strenger raskwotas. Verlede jaar moes daar minstens ses gekleurde spelers in elke 23-tal gewees het. Daardie getal styg nou na sewe en die vereiste is steeds dat drie van hulle in die beginspan móét wees. Die kwotas sal stadig maar seker tot 2019 toeneem – sewe en vier (2017); agt en vier (2018); agt en vyf (2019).

Nog ’n nuwe reël is dat slegs een van die vier eerstejaar-studente wat in spanne toegelaat word, ’n wit speler mag wees. Dié spelers moet 22 of jonger wees.

Die reëls maak voorsiening vir nóg drie eerstejaars – mits hulle in een van die twee voorafgaande jare in Graad 12 was. Dáár is geen kwota betrokke nie.

Nóg ’n verandering is die gebruik van witkaarte om skeidsregters se beslissings te bevraagteken. Dit sal vanjaar slegs in die halfeindronde en eindstryde gebruik word.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.