Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maandag is afskoptyd vir Jurie-saak
Jurie Roux, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se uitvoerende hoof.Foto: Gallo Images

Die uitgerekte stryd tussen die Universiteit Stellenbosch (US) en Jurie Roux word Maandag op die spits gedryf.

Daar is in Mei vanjaar, aan die vooraand van ’n stryd in die hooggeregshof, tussen dié partye ooreengekom dat die saak eerder deur ’n proses van arbitrasie besleg word.

Die US dagvaar vir Roux, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), vir R37 miljoen vir beweerde finansiële ongerymdhede in sy tyd as die US se direkteur van finansiële beplanning en batebestuur.

Daar word aangevoer dat hy geld op onregmatige wyse oorgedra het na die Maties-rugbyklub, waarvan hy die voorsitter was. Hy ontken dit.

Die Roux-sage het in 2013 vir die eerste keer kop uitgesteek toe daar berig is dat die Valke vir Roux oor beweerde bedrog ondersoek.

Roux het in Mei vanjaar ’n lang stilte verbreek deur die US in hofstukke te kasty.

“Die universiteit het nie die R37 miljoen verloor wat hy van my eis nie. Die saak wat die universiteit voorlê, asook sy eie dokumente en kennersverslag, dui daarop dat die geld bestee is aan wettige uitgawes wat vir en tot voordeel van die universiteit was,” het hy luidens die hofstukke gesê.

Die saak wat die universiteit voorlê, asook sy eie dokumente en kennersverslag, dui daarop dat die geld bestee is aan wettige uitgawes wat vir en tot voordeel van die universiteit was.

Hy het bygevoeg dat hy “baie hard, baie doeltreffend en met groot sukses” gewerk het om die universiteit se finansiële posisie en bestuurstelsel te versterk.

Chris de Beer, ’n voormalige adjunkhoof van studentegeld by die US en ’n spelersagent, is die tweede verweerder in die saak. Hy is met Roux bevriend.

In Mei is besluit dat die arbitrasieverhoor oor drie weke sal geskied en dat adv. Alasdair Sholto-Douglas die arbiter sal wees.

Ofskoon die kwessie vir jare al soos ’n wolk oor Roux hang, pla dit rugbybase skynbaar min en dwing hy baie agting af vir sy werk by Saru.

Rassie Erasmus

Sy posisie is sterker as ooit ná die Wêreldbeker-toernooi, want hy het ’n paar jaar gelede vir Rassie Erasmus teruggebring uit Ierland om die pos as Saru se direkteur van rugby te beklee.

Erasmus was aan die stuur in die merkwaardige ommekeer van die Springbokke die afgelope 18 maande en onder sy afrigting het hulle vroeër vandeesmaand die Wêreldbeker-toernooi in Japan gewen.

Daar is sprake dat Roux reeds ’n kontrakverlenging onderteken het, maar Saru se kommunikasiehoof, Andy Colquhoun, kon by navraag nie daarop lig werp nie.

Roux, wat sedert 2010 Saru se uitvoerende hoof is, het in Augustus 2014 ’n kontrakverlenging van vyf jaar gekry, wat beteken dat dié kontrak nou reeds verstryk het.

Meer oor:  Jurie Roux  |  Stellenbosch  |  Saru  |  Rugby  |  Geld  |  Hofsaak  |  Uitvoerende Hoof  |  Maties
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.