Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Madiba sou nie hou van kwotas’ – Siya

Die kwotastelstel sou vir  oudpres. Nelson Mandela ’n steen des aanstoots gewees het.

Siya Kolisi,
Siya Kolisi, Foto: Steve Haag - Gallo Images

Siya Kolisi, Springbok-kaptein, het dié mening uitgespreek in ’n onderhoud met die Japanse koerant Kyodo op ’n besoek aan Tokio oor Kersfees. Kolisi en sy familie was gaste van Panasonic, vir wie hy ’n ambassadeur is.

“Ek dink nie Madiba sou dit (die kwotastelsel)  ondersteun nie. 

 “Jy moet nie ’n getal aan so iets koppel nie. Ek wil nie vanweë my velkleur gekies word nie,” het Kolisi gesê. 

Kolisi se uitsprake sal die wenkbroue onder Suid-Afrika se rugbybase laat lig. As die Suid-Afrikaanse Rugbyunie getrou is aan sy beleid, moet 50% van die Bok-span vanjaar uit gekleurde spelers bestaan. 

Kolisi meen meer moet gedoen word om die natuurlike talent van spelers in die townships te ontgin.

“Dit sal kinders van die strate af weghou en help om misdaad te bekamp,” sê hy.

Kolisi besef ook dat hy ’n groter rol het as om die Bokke op die veld te lei.

“Ek glo ek is hier vir ’n groter rede as om net rugby te speel. Ek is lief daarvoor om terug te gee aan die gemeenskap waar ek vandaan kom,” sê hy.

Kolisi het ’n vennootskap met Panasonic aangegaan om 10 000 sonkragligte te verskaf aan huise wat nie elektrisiteit het nie. 

Hy is opgewonde dat die Bokke se voorbereiding vir vanjaar se Wêreldbekertoernooi met ’n wedstryd teen Japan in Japan afskop. Die wedstryd sal die verbeelding prikkel nadat Japan by 2015 se toernooi die Bokke in Brighton hul grootste verleentheid tot nog toe besorg het.

“Dit sal goed wees om die geleentheid te hê om aan die toestande in Japan gewoond te raak,” sê hy.

Kolisi beskryf die skoknederlaag in Brighton, wat straks die grootste opskudding in die geskiedenis van Wêreldbekerrugby is, as ’n “swart dag” in sy rugbyloopbaan.

“Dit was ’n moeilike dag vir ons as span en dit maak steeds seer. Japan verdien egter erkenning, want hulle het goed gespeel. 

“Hul begeerte om te wen, was opmerklik en hul taktiek slim. Ons het nooit gedink dit kan gebeur nie.

“Dit het ons laat wakker skrik. Ons het besef ons moet elke dag op ons beste wees en dat reputasies niks tel nie.”

Daar is egter nie “wraakgedagtes” nie.

“Ons is nou ’n ander span. Van daardie spelers het aanbeweeg en ons is opgewonde oor die geleentheid,” sê hy.

Die wedstryd teen Japan word op 6 September gespeel voor die Bokke se eerste groepwedstryd teen Nieu-Seeland op die 21ste in Yokohama.

Kolisi se siening oor transformasie blyk te strook met dié van die Bok-breier, Rassie Erasmus. 

Erasmus het verlede jaar in ’n onderhoud op SuperSport gesê hy weier om transformasie goedkoop te maak.

“Almal weet wat in die verlede gebeur het. As ’n swart haker beseer raak en jy moet ’n wit haker kies, moes jy ’n wit vleuel weglaat om vir ’n swart speler plek te maak. Dís wanneer transformasie ’n grap word,” het Erasmus gesê.

“Mense raak dan ontsteld. Ondersteuners raak ontsteld. Swart en wit spelers raak kwaad.”

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Siya Kolisi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.