Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Madibaz terug in Varsitybeker-reeks

Die rugbyspan van die Madibaz het reeds vir aanstaande jaar se Varsitybeker-reeks gekwalifiseer.

Luciano Jones van die Madibaz in aksie vroeër hierdie seisoen teen die span van die Walter Sisulu-Universiteit. Foto: Michael Sheehan

Hoewel daar nog ’n paar wedstryde is wat in die Varsity Skild-reeks gespeel moet word, kan die Baaise studente nie meer op die puntelys ingehaal word nie.

Volgens die kompetisie se reëls skuif die Skild-span wat eerste op die gekombineerde puntelyste van verlede jaar en vanjaar eindig, outomaties op na die Beker-reeks.

Die span wat laaste eindig in die Beker-reeks, skuif dan af na die Skild-reeks.

Die Skild-span wat tweede eindig, sal wel teen die tweede swakste Beker-span ’n promosie-relegasiewedstryd speel.

Die Madibaz het tans 46 punte op die gekombineerde puntelys. Die Kaapse Skiereiland het 40 en die Walter Sisulu-Universiteit 35 punte.

Met die Skiereiland en Walter Sisulu wat elk nog net een wedstryd oorhet om te speel, kan die Madibaz dus nie op die puntelys ingehaal word nie.

Die organiseerders van die reeks moet nog besluit wanneer, indien wel, die wedstrydbepalings hervat sal word.

Met die Covid-19-pandemie is alles vir eers gestaak.

Indien die reeks hervat word, is daar ook nog die uitspeelwedstryde wat gespeel kan word.

Die Kaapse Skiereiland het die Madibaz verlede jaar in die eindstryd van die Skild-reeks gewen.

Maar dit maak nie saak of die Madibaz die eindstryd van die Skild-reeks wen of nie, alles gaan oor die gekombineerde puntelys.

Dit is wel een van die Madibaz se doelwitte om vanjaar die eindstryd te wen indien dit wel gespeel sou word.

“Dis tog jammer dat die wedstryde nou uitgestel is en dalk nog afgestel kan word. Ons sou graag die seisoen wil klaarmaak en ook probeer om die reeks te wen,” sê Jarryd Buys, die Baaise studente se hoof-afrigter.

Die Madibaz se teenstander in ’n potensiële eindstryd kan Walter Sisulu wees.

Dis vir Buys ’n teer puntjie dat sy span ’n paar weke gelede teen Walter Sisulu verloor het.

Die “All Blacks”, soos Walter Sisulu se span bekend staan, was met 19-14 teen die Madibaz baas.

“Daardie was seker ons swakste vertoning in twee seisoene,” brom Buys.

“Ons het toegelaat dat hulle beter lyk as wat hulle is.”

Die twee spanne wat in die Beker-reeks in die moeilikheid is, is die Universiteit van Johannesburg en die Universiteit van die Wes-Kaap.

Altwee sal duime vashou dat die seisoen voltooi kan word, sodat hulle van die laaste plek op die puntelys – en outomatiese relegasie – kan wegskuif.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Madibaz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.