Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Puma-breier mor oor hoogvatte, g’n kaarte
Madosh Tambwe druk 4 in Leeus se sege

Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus se rugbyspan, het sy spelers geloof vir die karakter wat hulle getoon het in hul terugvegoorwinning van 38-37 oor die Pumas gistermiddag op Ellispark.

Met ’n kwartier se speeltyd oor was die Laevelders met 37-21 voor, maar die Leeus het die agterstand van 16 punte uitgewis en die wenpunte in die laaste oomblikke behaal.

“Jy kon sien ons het ’n ruk lank nie gespeel nie, maar die geloof wat daar in die span is, het die eindpoging laat vlamvat. Daardie breekslag van Stean (Pienaar) het die dinge aan die gang gekry en dit het tot een van Madosh (Tambwe) se vier drieë gelei. Hy was spesiaal. Ons fiksheid het ook ’n groot rol in die laaste kwartier gespeel,” het Van Rooyen gesê.

Tyrone Green duik oor vir die Leeus in die Curriebeker-kragmeting teen die Pumas gister op Ellispark.Foto: gallo images

Die Leeus se span, wat grootliks uit welpies bestaan het, het uitstekend teruggeveg om die agterstand van 16 punte uit te wis in die laaste kwartier en baie karakter te wys in hierdie oorwinning.

’n Viertal drieë deur die regtervleuel, Tambwe, was die stukrag agter hierdie naelbyt-oorwinning.

Die eerste helfte was intens met die twee agttalle wat goed teen mekaar opgeweeg het.

Albei spanne was bereid om die bal lug te gee en dit wyd te speel. Tog was die verdediging aan albei kante ook stewig.

Die Pumas het die telbord aan die rol gekry toe die flank Carel du Preez ’n losbal deurgeskop en die wedloop gewen het om die bal net voor die doellyn te bemeester en oor te duik.

Die Leeus het egter kort daarna teruggeslaan toe die blitsige Tambwe een van sy twee drieë in die eerste helfte gedruk het. Dit het gevolg op ’n puik breekslag van die heelagter, Ty­rone Green.

Die Pumas se tweede drie is gedruk deur die groot slot Le Roux Roets, ná goeie werk deur die losskakel, Kobus Marais.

Daar was nie veel te kies tussen die spanne in die eerste helfte nie en die enigste verskil was die strafskop wat Marais behaal het om die besoekers sy neus te laat voorkry met die omdraaislag.

Dit is egter vanaf die afskop vir die laaste 40 minute se spel uitgewis toe Green ná ’n lang lopie onder die pale afgerond het.

Die pendulum het bly swaai met die besoekers wat weer die voortou geneem het toe die voormalige Valke-vleuel, Etienne Taljaard, in die hoekie oor is na volgehoue druk en goeie werk deur die senter en kaptein, Ryan Nell.

Halfpad deur dié helfte het die Pumas nog meer daglig tussen hulle en die Leeus geplaas toe meer as die helfte van die span die bal hanteer het voordat die plaasvervanger Morgan Naudé oor is.

Die voorsprong is toe gerek tot 16 punte en die Leeus het ’n taak en ’n half op hulle gehad om te probeer terugkom. Dit het hulle egter skitterend gedoen.

Tambwe het sy driekuns voltooi om die Leeus se hoop lewend te hou en toe nommer vier gaan druk om binne trefafstand te wees.

Die wendrie deur Shaun Reynolds is enkele minute voor die eindfluitjie gedruk en sy doelskop het die seël op die oorwinning geplaas.

Jimmy Stonehouse, die Pumas-afrigter, is van mening dat daar teen die Leeus-slot Rhyno Herbst opgetree moes word nadat hy twee hoogvatte uitgevoer het.

“Dit kon twee geelkaarte gewees het wat dan ’n rooie sou wees en dit kon beslis ’n verskil gemaak het,” het Stonehouse gesê.

Meer oor:  Pumas  |  Leeus  |  Ivan Van Rooyen  |  Afrigter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.