Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Spaarvarkie kos Luiperds Olënpark

Die droewige finansiële landskap in Suid-Afrikaanse beroepsrugby het nog ’n slagoffer geëis, met die Luiperds Rugbyunie wat van hul stadion, Olënpark, moet afstand doen.

Dit is die jongste slag vir ’n Suid-Afrikaanse rugbyunie nadat daar vroeg vandeesweek aangekondig is dat die Grens Rugbyunie gelikwideer gaan word.

Die Luiperds se tuiswedstryde sal nie meer op die geskiedkundige Olënpark aangebied word nie. Foto: Deaan Vivier

Die WP Rugbyunie se sakevleuel en die Oostelike Provinsie is self in onlangse jare gelikwideer, terwyl die Blou Bulle Maatskappy hom ook in troebel finansiële waters bevind.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het nie-franchise unies, soos die Luiperds, se begrotings boonop drasties gesny.

Die realiteit is dat ons ’n maksimum van 200 tot 400 toeskouers per wedstryd lok en dit net nie meer die koste regverdig om ’n wedstryd op Olënpark aan te bied nie.
André May

Die Luiperds gebruik Olënpark, wat aan die Potchefstroomse stadsraad behoort, al sedert 1920.

Adv. André May, die Luiperds se president, het Donderdag bevestig dat hulle alternatiewe opsies oorweeg om die unie se tuiswedstryde aan te bied. Hul huurkontrak vir die stadion verstryk op 30 Junie 2019.

Die moontlikheid bestaan dat wedstryde na die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fanie du Toit-sportgronde in Potchefstroom verskuif gaan word.

André May. Foto: Argief

Volgens May is swak samewerking met die stadsraad en ’n krimpende begroting vir die situasie verantwoordelik.

“Die realiteit is dat ons ’n maksimum van 200 tot 400 toeskouers per wedstryd lok en dit net nie meer die koste regverdig om ’n wedstryd op Olënpark aan te bied nie,” sê hy.

“Hou in gedagte dat dit ons ongeveer R30 000 per wedstryd kos om aan die voorgeskrewe sekuriteitsvereistes te voldoen, tesame met die elektrisiteitsverbruik per wedstryd.”

Daar is in hierdie stadium nog nie ’n finale besluit geneem nie, maar dit sal “onverskillig wees om nie ander opsies te oorweeg nie, sê hy.

“Ons sal in 2018 die rugby na die mense neem met ons eerste wedstryd teen die Griffons wat in Schweizer-Reneke gespeel word,” sê hy.

Volgens May het die stadsraad in 2016 daarop aangedring dat die Jomo Cosmos-sokkerklub die stadion byna kosteloos met hulle deel terwyl die stadion se instandhouding die Luiperds se verantwoordelikheid sou bly.

“Nie alleen was dit onbillik nie, maar dit het ook verskeie praktiese probleme veroorsaak, veral wanneer wedstryde gebots het.

Ons begroting is met ongeveer 52% deur Saru gesny, en dis een van die redes waarom ons nie die nodige herstelwerk aan die oostelike pawiljoen kan aanbring nie.
André May

“Ons is genoodsaak om van ons wedstryde te skuif. Ons ervaring met die stadsraad is dat dit byna onmoontlik is om sinvol met hulle te onderhandel,” sê May.

“Ons begroting is met ongeveer 52% deur Saru gesny, en dis een van die redes waarom ons nie die nodige herstelwerk aan die oostelike pawiljoen kan aanbring sodat ons die vereiste veiligheidsertifikaat kan bekom nie. Ons mag dus geen toeskouers op die oostelike pawiljoen toelaat nie.”

May wys daarop dat nostalgie nie in die pad van ’n sakebesluit moet staan nie.

“Dit is uit die aard van die saak hartseer om te dink dat ons van Olënpark moet skuif, maar ons kan nie die finansiële realiteite ignoreer nie. Ons sou steeds baie graag die aangeleentheid met die stadsraad wou uitklaar, maar dit blyk in hierdie stadium ’n saak van onmoontlikheid te wees.”

Meer oor:  André May  |  Luiperds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.