Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pro14 Mafura dalk nooit beskore

Die Cheetahs se Zimbabwies-gebore heelagter Tapiwa Mafura wag al byna ’n jaar en half vir ’n paspoort wat hom sal toelaat om saam met sy span Europa toe te toer vir Pro14-wedstryde.

Tapiwa Mafura wys hakskene vir Stean Pienaar en Tyrone Green in ’n Curriebeker-stryd tussen die Vrystaat-Cheetahs en die Goue Leeus in Bloemfontein verlede jaar. Foto: Gallo Images

Nou lyk dit asof die hekke van die Pro14-reeks dalk vir hom gesluit sal bly. Sy kontrak met die Cheetahs eindig aan die einde van Oktober en van ’n verlenging was daar nog geen sprake nie.

Mafura sou op 16 Februarie verlede jaar in Galway, Ierland, sy Pro14-buiging teen Connacht gemaak het, maar hy het nooit eens saam met sy spanmaats op die vliegtuig geklim nie. Hy mag nie met sy Zimbabwiese paspoort na Wallis en Ierland vlieg nie.

Hy was toe lank in Johannesburg gestrand terwyl hy ’n ander visum probeer bekom het, maar sy pogings was onsuksesvol.

“Dit was baie teleurstellend om met die paspoort te sukkel toe ek ’n geleentheid gehad het om my Pro14-buiging te maak. Ek is seker ek sou in al drie wedstryde op daardie toer gespeel het,” sê Mafura.

“Ek sal nooit verstaan hoekom sekere goed gebeur nie, maar ek het dit aanvaar en aanbeweeg. Dit was dalk net nie my tyd nie. Ek sukkel steeds met die paspoort en ek verstaan nie hoekom dit so lank neem nie. Die huidige staat van inperking help natuurlik ook nie.”

Hy sê die situasie is regtig baie frustrerend.

Om nie ’n paspoort te hê nie, het baie geleenthede van my af weggehou. Ek bly egter hoopvol en bid dat die probleem opgelos word.

Mafura (24) is een van ’n hele paar spelers by die Cheetahs wat die laaste vesting kan beman en om spelers soos Clayton Blommetjies en Rhyno Smith uit die kussings te lig, is makliker gesê as gedaan. Die Cheetahs verwelkom boonop binnekort vir Frans Steyn, wat op enige plek in die agterlyn ingespan kan word.

“My gunstelingposisie is heelagter, maar ek kan ook vleuel speel. Ek sal egter inskakel waar ook al Hawies (Fourie, die Cheetahs se hoofafrigter) my wil gebruik. Dit sal in elk geval beter wees as om glad nie te speel nie. Ek verwelkom enige wedstrydtyd in enige posisie.”

Hy erken dit was vir hom sleg om te sien hoe sy spanmaats voor die inperking in die Pro14-reeks gespeel het.

“Dis nou nog erger om weens die pandemie nie te kan speel nie. Maar niemand het dit sien kom nie. Dit moet ons ook nie keer om fiks te bly vir wanneer ons wel weer sal kan speel nie. Wie weet, dalk kry ek dan nog my kans,” sê Mafura.

Daar is geen sprake daarvan dat dié jong man op moedverloor se vlakte sal gaan sit nie. Hy speel sy rugby vir sy oorlede ma, sy familie en uit liefde vir die sport. Daarom, sê Mafura, sal hy altyd gemotiveerd bly.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.