Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Malcolm Marx nie al lynstaan-skurk

Die skuld vir verlore lynstaanballe kan nie net op een speler gepak word nie.

Kyk, dáár bo gaan ek die bal gooi . . . Malcolm Marx en sy spanmaat RG Snyman verlede Vrydag tydens die Springbokke se kapteinsoefening op Twickenham. Foto: Getty Images

Só sê Philip Lemmer, die voorspeler-afrigter van die Leeus se rugbyspan, en iemand wat die afgelope seisoen baie nou saamgewerk het met die Springbok-haker Malcolm Marx.

Marx, wat op 24-jarige ouderdom reeds beskou word as die beste haker in wêreldrugby, het die afgelope Saterdag onder ’n stortvloed kritiek deurgeloop nadat die Springbokke vier lynstaanballe afgestaan het in die verloortoets met ’n enkele punt teen Engeland op Twickenham.

Twee van daardie lynstane was met die Springbokke slegs 5 m vanaf die Engelse doellyn in die eerste helfte en boonop terwyl die tuisspan net sewe voorspelers gehad het.

Lemmer het erken dat hy nie na die toets gekyk het nie weens omstandighede buite sy beheer, en daarom nie in ’n posisie is om ’n oordeel te fel oor Marx se ingooiwerk by daardie geleenthede nie.

Philip Lemmer, die Leeus se voorspeler-afrigter. Foto: Gallo Images

“Ek sal seker eers oor die volgende paar dae in ’n situasie wees waar ek die toets kan kyk en dan my mening gee.

“Tog weet ek uit ondervinding dat lynstane nie net gaan oor hoe die bal ingegooi word nie. Ek vind dit dus altyd onregverdig as daar dadelik vinger gewys word na die ingooier. Dit gaan oor tydsberekening en indien die springer ’n sekonde te vroeg of te laat spring, kan die besit verlore gaan.

“Dan moet die tydsberekening van diegene wat die springer ondersteun en hom oplig ook 100% reg wees. Daar is dus baie dinge wat in aanmerking geneem moet word en nie net hoe die bal ingegooi word nie.

“Dit is net soos met die skrums, waar die skuld nie net op die vaskop gepak kan word wanneer ’n span swaarkry in die skrums nie.

“Wat ek wel van Malcolm kan sê is dat hy baie hard werk aan sy ingooiwerk en letterlik ure daaraan bestee by die oefeninge. Hy is ’n baie toegewyde speler en werk hard aan alle aspekte van sy spel. Juis daarom word hy nou al gereken as die beste in sy posisie in wêreldrugby,” sê Lemmer.

Nick Mallett, rugbyontleder en eertydse Springbok-afrigter, reken Marx se korrel het hom sleg in die steek gelaat, veral wat die twee ingooie betref op die Engelse doellyn.

Dit kom daarop neer dat Marx die bal te hoog gegooi het en sy visier uit was.
Nick Mallett

“Die springer kon daar nie enigsins hoër opgetel word as wat die geval was nie. Die ondersteuners van die springer het hom so hoog gelig as wat hulle kon, maar steeds is die bal nog gerieflik oor sy uitgestrekte hande. Dit kom dus daarop neer dat Marx die bal te hoog gegooi het en sy visier uit was,” sê Mallett.

“Veral met die situasie waarin die Engelse was, kon hy die bal omtrent twee voet laer gegooi het en sy springer sou steeds besit verkry het. In die posisie waarin die Engelse hulle bevind het, sou hulle nie sommer meegeding het om besit nie, want hulle het reggemaak om die rolmaalbeweging van die Bokke te probeer stuit,” sê Mallett.

Meer oor:  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Leeus  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Malcolm Marx
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.