Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nick Mallett sê nee vir Bok-pos
Nick Mallett Foto: steve haag/gallo

Die nasionale breier, sy hulpafrigters en die direkteur van rugby – en niemand anders nie – moet die Springbokspan kies.

En daarom stel Nick Mallett nie belang daarin om binnekort as Bok-keurder oorweeg te word nie.

Dít was Mallett, ’n voormalige Springbokafrigter, se reaksie toe hy vandeesweek gepols is oor sy beskikbaarheid as keurder.

Mallett en die oud-Boksenter Brendan Venter is twee van die bekendste name wat glo deur die land se uniepresidente aan die hoëprestasiekomitee van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) as keurderkandidate gestuur sou word.

Volgens Mallett moet die Bok-afrigter, sy hulpafrigters en die direkteur van rugby die Bok-groep kies.

“Ek sal waarskynlik weens dít én beperkte tyd nie beskikbaar wees nie,” het Mallett aan Rapport gesê.

Na verneem word sloer die proses om die nuwe Bok-keurpaneel aan te kondig nadat Saru reeds vir Ian McIntosh en Peter Jooste laat weet het dat hul termyne ná die Wêreldbeker-toernooi verstryk het. Saru het sy presidente ook dié maand gevra om geskikte kandidate as keurders te benoem.

Die moontlikheid bestaan selfs dat geen aanstelling voor einde Maart gemaak sal word nie en dat Suid-Afrika dus tot dan sonder ’n keurder in die Superreeks sal wees.

“Die hoëprestasiekomitee het (die week) voorstelle in verskeie gebiede voorberei wat aan die uitvoerende komitee vir sy insae in sy komende vergadering gegee sal word,” het ’n Saru-woordvoerder by navraag gesê.

“Hy (die uitvoerende komitee) het die magte om die na­sionale keurders aan te stel, maar die aanstelling van die Bok-afrigter moet deur die algemene raad bekragtig word.”

Saru het bevestig dat die algemene raad – wat onder meer uit sy presidente en uitvoerende hoofde van sy 14 unies bestaan – eers op 1 April vergader. Die hoëprestasiekomitee bestaan uit Kevin de Klerk,
James Stoffberg, Francois Davids en Pat Kuhn.

Venter is, soos Mallett, onseker of hy beskikbaar sou wees om as keurder te dien.

“Ek sal eers moet weet wat presies dit behels. Ek is voltyds in praktyk,” het dié mediese dokter van die Strand aan Rapport gesê.

  • Die hoëprestasiekomitee sou ook vandeesweek aanbevelings oor Heyneke Meyer se opvolger as Bok-afrigter gemaak het.

Die verwagting is steeds dat Allister Coetzee aangewys sal word om die Bokke tot ná 2019 se Wêreldbeker in Japan af te rig, met Johann van Graan wat reeds as ’n lid van sy bestuurspan aangestel is.

Rassie Erasmus en lede van sy mobiele eenheid by Saru – insluitend die verdedigingsghoeroe Jacques Nienaber – sal steeds ’n belangrike rol speel.

Erasmus is in Desember deur Saru se algemene raad gevra om al die verpligtinge van die Bok-afrigter te hanteer, alvorens ’n permanente aanstelling gemaak kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.